Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Matiemoord: ‘Hannah was volmaakste in familie’
Hannah Cornelius
Sy kon enigiets doen en enigiets word.

Hannah Cornelius (21) se familie sukkel nog om dié liefdevolle student se “sinnelose dood” te aanvaar.

Haar lyk is Saterdagoggend op die plaas Groenhof buite Stellenbosch gevind.

Lali van Zuydam (27), Cornelius se niggie, sê Hannah se lewe is van haar weggeruk net toe sy met haar grootmenslewe begin het.

“Sy kon enigiets doen en enigiets word.”

Dit is vir haar “onnodig” dat Cornelius vermoor moes word “vir ’n Citi Golf wat so min waarde het”.

Cornelius en Cheslin Marsh, ’n vriend en medestudent, is Saterdag tussen 03:00 en 06:00 in Birdstraat, Stellenbosch, deur vier mans aangeval waar hulle in haar blou Citi Golf gesit en praat het.

Die studente is van al hul besittings beroof. Die gewapende kapers het Marsh met bakstene teen die kop gegooi en hom in Kraaifontein vir dood agtergelaat.

Die kapers is met Cornelius na die plaas Groenhof toe, waar hulle haar sowat vier keer met ’n skerp voorwerp gesteek en haar herhaaldelik verkrag het.

Haar lyk is Saterdag omstreeks 08:30 langs ’n kragkas gevind.

Van Zuydam sê Cornelius “is nie net nog ’n statistiek nie”.

Hannah Cornelius (21), wat dié wat haar ken beskryf as mooi van binne en buite.

Haar innerlike én uiterlike skoonheid het almal om haar aangeraak.

“Hannah was die volmaakste een in die familie. Sy was die soort mens wat nog sou vra hoe dit met jou gaan terwyl dit sleg gaan met haar.”

Cornelius het ook “al die liefde en geduld in die wêreld” gehad vir haar boetie, Andries (18), wat outisties is.

“Hannah was ook baie intelligent,” sê haar niggie.

“Sy het matriek met sewe onderskeidings geslaag en sy het baie, baie goed klavier gespeel.”

Cornelius kon vlot Frans praat. Van Zuydam sê Cornelius het ná matriek in 2015 vir ’n jaar lank as au pair in Frankryk gewerk.

Die tweedejaar-BA-student aan die Universiteit Stellenbosch se diverse belangstellings is in haar vakkeuses soos Frans, filosofie en sielkunde weerspieël.

Van Zuydam sê haar langtermyndroom was om te skryf. “Hannah het gereeld gediggies geskryf. Sy het baie in joernalistiek belang gestel.”

Die Irene-vrouekoshuis waar Cornelius ’n inwoner was, beskryf haar op Facebook as iemand wat “ ’n ongeëwenaarde gees” gehad het.

“Hannah was ’n dapper mens wat haar onvoorwaardelike liefde en lig uitgedeel het.

“In Irene sal ons Hannah onthou vir haar ware vriendskap en vriendelikheid, haar ruim humorsin en haar pragtige, skitterende glimlag,” lui die inskrywing.

Mense van oor die land heen spreek ook hul meegevoel met die familie uit.

“Ons word met kos, briewe en gedigte oorweldig, selfs van mense wat ons nie eens ken nie,” sê Van Zuydam.

“Die ondersteuning herinner ons daaraan dat daar nog goeie mense is.”

Van Zuydam sê die familie het volle vertroue in die regstelsel om hulle die geregtigheid te gee wat hulle toekom.

Cornelius word deur haar pa, Willem, hooflanddros van Simonstad, haar ma, Anna, ’n bekende prokureur in Kaapse regskringe, en haar broer, Andries, oorleef.

’n Roudiens vir Cornelius word Vrydag om 11:00 uit die NG kerk in Vishoek gehou.

Meer oor:  Hannah Cornelius  |  Verkragting  |  Kaping  |  Roof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.