Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Matiestudent wat uit kamer val 'n 'lieflike rolmodel'

’n Matiestudent is in ’n kritieke toestand nadat sy twee verdiepings ver vanuit ’n koshuiskamer op Stellenbosch geval het.

Taylië Chamondré Jaap (19), eerstejaarstudent, het Sondagoggend glo in vreemde omstandighede sowat 7 m van die tweede verdieping by die Serruria-koshuis uitgeval.

Sy is Maandag in die hoësorgeenheid van die Tygerberg-hospitaal in Parow, Kaapstad, behandel nadat sy in ’n bewustelose toestand daarheen oorgeplaas is.

Taylië JaapFoto: Facebook

Jaap was ’n uitblinkerstudent en hoofmeisie en was in 2018 ’n leerling aan die Schoonspruit Secondary School in Malmesbury. John Stewe, die skoolhoof, sê Jaap was ’n geliefde leerling en ’n rolmodel.

“Sy was maar net ses maande by ons skool en dit spreek boekdele dat sy ’n hoofmeisie geword het. Sy het altyd alle leerlinge, en veral die matrieks, gemotiveer,” sê Stewe.

Stewe sê sy was onder die toppresteerders wat altyd volpunte vir Afrikaans-mondeling gekry het. Sy het ook in netbal uitgeblink.

“Dit is verskriklik dat iemand soos sy, wat altyd ander gemotiveer het, so ’n terugslag gekry het,” sê Stewe.

Haar oom Hein Leonard het Maandagoggend gesê die familie is nog nie seker wat gebeur het nie en wag nog dat amptenare van die US meer inligting gee. Hy het Maandagmiddag nie verder op vrae gereageer toe hy om kommentaar genader is nie.

Leonard en sy vrou, Charmaine, is Jaap se voogde en sy het ná haar ma se afsterwe ’n paar jaar gelede saam met hulle in Lambertsbaai aan die Weskus gewoon.

“Sy het Sondagmiddag self begin asemhaal en daar is so ’n bietjie beweging. As ’n mens aan haar hande vat, reageer sy darem,” sê Leonard.

Só lyk die koshuis waaruit Taylië geval het. Die rooi blokkie dui die kamer aan waaruit sy geval het.Foto: Jaco Marais

Martin Viljoen, woordvoerder van die US, sê die krisisdiens van die sentrum vir studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) het Maandag reeds berading aan Jaap, ’n BSc-student, se koshuis- en klasmaats gebied nadat sy Sondagoggend vroeg uit die koshuisgebou geval het.

“Sy is met ernstige beserings in die Stellenbosch-hospitaal opgeneem, waarna sy na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas is. Haar toestand is kritiek.”

Viljoen sê die universiteit ondersoek die voorval.

Volgens hom het die universiteit Maandagmiddag laat nog geen nuwe inligting ontvang nie.

Netwerk24 het Maandag by Serruria aangeklop, maar die koshuismoeder het gesê die studente kry berading en kan nie met die media praat nie.

“Taylië is ’n baie saggeaarde, vriendelike, vreugdevolle, liefdevolle, energieke en spontane mense-mens,” sê Merchant Andrea Sias, haar hoërskoolmaat.

“Taylië hou van dinge soos dans, lag en praat. Sy kan jou ore van jou kop af praat, maar dit is wat haar so ’n wonderlike mens maak,” sê Sias oor dié meisie met wie sy op skool ’n kamer gedeel het.

Hulle het ontmoet nadat Jaap uit Lambertsbaai getrek het en toe ’n leerling aan Schoonspruit geword het.

Sias sê Jaap het ’n liefde vir toneel en was goed daarin, al studeer sy nou mikrobiologie.

Siyabulela Malo, polisiewoordvoerder, sê ’n dossier is nog nie by hulle geregistreer nie.

“Die Stellenbosch-polisie is bewus daarvan, maar die lede het nog geen inligting rakende die voorval nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.