Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Matthys Roets en vasbyt-visvangers kuier in Irene
Die sanger Mathys Roetshet die Ramcat Fishing-byeenkoms vir die samesyn gaan bywoon. Foto: Christiaan du Plessis

Die gewilde Afrikaanse sanger Mathys Roets tel onder diegene wat Sondag in Irene, suid van Pretoria, ’n “vyfster” visvang-byeenkoms vir mense in rolstoele bygewoon het.

Mense het selfs van Durban gekom om aan vanjaar se Ramcat Fishing-byeenkoms deel te neem.

Dit word jaarliks by die African Pride Irene Country Lodge aangebied.

Hoewel Roets nie self sy hand aan ’n visstok gewaag het nie, was hy daar vir die samesyn en om ou vriende weer te sien.

“Die eerste keer wat ek deelgeneem het, was my twee seuns en my vrou hier om my te help. Vanjaar het ek sommer vir die samesyn gekom,” het Roets met ’n bier in die hand geskerts.

Douglas Boman van Rietfontein, Pretoria, met ’n klein visstok in die hand. Foto: Christiaan du Plessis

Roets het in ’n rolstoel beland nadat hy sy rug in ’n motorfietsongeluk beseer het.

Yster Small, wat die byeenkoms reël, sê hy poog om die byeenkoms elke jaar ’n “vyfster-geleentheid” te maak.

Daar word visgevang, geëet en gekuier.

Elke gestremde visvanger kan iemand saamneem wat help om die lyn van die visstok te gooi en ook te help uittrek wanneer ’n vis byt.

Die visse wat gevang word, hoofsaaklik barbers en karpe, word geweeg, maar volgens Small word daar nie ’n wenner aangewys nie.

“Dit gaan eerder daaroor om lekker saam te kuier. Daar is wel pryse vir die persoon wat byvoorbeeld die beste tan gekry het.

“Deesdae is dit te gevaarlik vir mense in rolstoele om langs enige dam te gaan sit en visvang. Hulle word dikwels beroof en aangeval,” sê Small.

Volgens hom is die meeste van die visvangers voormalige dienspligtiges wat in die grensoorlog verlam geword het.

Een só ’n persoon, Johan Krause, van Pretoria, sê hy gaan elke jaar omdat dit so lekker is.

“Die helfte van die ouens wat hier visvang is óf net so goed óf so sleg soos jy. Daarom kan ek ontspan en myself geniet,” sê hy.

Die dam word net een keer ’n jaar oopgestel om vis te vang – spesiaal vir die geleentheid.

Small sê die karpe word teruggegooi en die barbers word na ander damme geneem waar hulle losgelaat word.

“Almal wat hier betrokke is, is vrywilligers. ’n Mens ontmoet die vriendelikste mense in ’n omgewing van liefdadigheid,” sê hy.

Meer oor:  Mathys Roets  |  Irene  |  Visvang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.