Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Max hartseer oor Afrikaanse koerante
Die veteraanjoernalis Max du Preez en die veteraanaktrise Sandra Prinsloo het Donderdag eredoktersgrade van die Universiteit Stellenbosch ontvang.

Twee veterane in hul veld, die joernalis Max du Preez en die aktrise Sandra Prinsloo, het Donderdag eredoktorsgrade in die Wysbegeerte (DPhil) van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang.

Du Preez en Prinsloo is twee van 14 mense wat as deel van dié universiteit se eeufeesvieringe gehuldig is.

Du Preez het gesê hy is bang dat die universiteit sy standaarde laat val met mense soos hy by die geleentheid. Prinsloo het gesê dié doktorsgraad is vir seker die grootste eer wat haar al toegekom het.

Du Preez is voor sy graadoorhandiging veral geprys vir die feit dat hy destyds die Vrye Weekblad gestig het en sodoende ’n nuwe era vir Afrikaanse joernalistiek ingelei het. Jacques Pauw, die joernalis en skrywer van The President’s Keepers was die adjunkredakteur van dié koerant.

Du Preez het die werk van Suid-Afrika se ondersoekende joernaliste soos Pauw geprys en gesê dat as dit nie vir hulle werk was nie die land steeds in die ou orde sou vassit.

“Hoewel ek baie trots is op wat ondersoekende joernalistiek die afgelope paar jaar gedoen het, maak dit my hartseer om te sien hoe die Afrikaanse joernaliste en Afrikaans koerante ’n bietjie in die Mandela-euforie van 25 jaar gelede vasgehaak het,” sê hy egter.

“Dit maak my hartseer om te sê ek dink Afrikaanse koerante swig voor die druk van regse drukgroepe en takel nie die nuwe werklikhede van Suid-Afrika nie.

“Hier sit ons vandag en die oorheersende debat is grond en rassisme en dis 25 jaar later. Ek hoop joernalistiekstudente gaan dit ter harte neem as ek sê daar is ’n job om te doen. Die job wat ons by die Vrye Weekblad gedoen het – daar is weer so ’n job te doen.”

Du Preez (67) het sy toespraak afgesluit deur aan Sandra Prinsloo te erken dat hy al ’n crush op haar het sedert sy vroeë 20’s.

Hier sit ons vandag en die oorheersende debat is grond en rassisme en dis 25 jaar later. Ek hoop joernalistiekstudente gaan dit ter harte neem as ek sê daar is ’n job om te doen.

Prinsloo (70) is deur die US beskryf as ’n “legendariese aktrise, regisseur en kulturele aktivis”. Sy het die instelling geprys omdat dié instelling multitaligheid en multikulturalisme bevorder en kunste in al sy vorme vereer.

Sy sê dat sy vanjaar 50 jaar in haar beroep as aktrise vier en dat dit haar nog “net vreugde” gegee het, al is dit ’n beroep wat “alles van jou vra”.

“Die beroep handel werklik oor die soeke na die waarheid wat die menslike toestand weerspieël en dit is juis daai soeke wat so moeilik is,” sê sy.

Prinsloo het ter afsluiting T.S. Eliot se gedig “Little Gidding” uit sy Four Quartets voorgelees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.