Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mbalula op die BBC: Nou dreig Niehaus met hofsake

“Die minister moet môre (Vrydag) teen 15:00 onvoorwaardelik om verskoning vra. Ons speel nie; as hy nie daaraan voldoen nie, sal ons beslis aanstaande week in die hof ontmoet. Genoeg is genoeg!”

Só het ’n duidelik omgekrapte Carl Niehaus, woordvoerder van die omstrede Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA), Donderdag getwiet.

Dié dreigement aan Fikile Mbalula, minister van vervoer, gaan oor sy uitlating in ’n onlangse onderhoud met die BBC se nuusprogram HARDtalk oor Niehaus se sogenaamde aandeel in die geweldpleging in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA). Foto: Gallo Images
Fikile Mbalula, minister van vervoer. Foto: Gallo Images

Mbalula het Niehaus in die onderhoud uitgewys as een van die voorbokke in ’n opstand om die regering omver te werp. “Daar is mense wat ons op politieke vlak ken, Carl Niehaus . . . en ander mense rondom hom,” het Mbalula gesê met verwysing na die opstokers.

Mbalula het ook gesê die onrus het al die kenmerke van ’n “poging om die demokratiese regering te ondermyn” en was goed georganiseer.

“Was dit ’n opstand? Nee. Was daar ’n poging? Ja,” het hy gesê.

Niehaus noem Mbalula se aantygings “vals, kwaadwillig en misleidend” in ’n prokureursbrief wat hy Donderdag aan hom gestuur het. Niehaus eis dat Mbalula sy uitlatings terugtrek en hom om verskoning vra. Andersins dreig hy die minister met ’n regsgeding. Niehaus het ook ’n video op Twitter geplaas waarin hy sê dat hy sal voortgaan om sy burgerregte uit te oefen.

“Jy en diegene in die regering wat hierdie ongegronde leuens probeer smous, moet verstaan dat julle my en baie ander nie gaan intimideer nie,” sê Niehaus in ’n video op Twitter.

“Ons sal voortgaan om ons reg op vryheid van spraak te gebruik om te vra vir die vrylating van pres. Jacob Zuma. En ons sal voortgaan om ons burgerregte uit te oefen. Jy weet goed dat ek nog nooit vir geweld gevra het nie en dat ek altyd binne die perke van die wet opgetree het.”

Jy en diegene in die regering wat hierdie ongegronde leuens probeer smous, moet verstaan dat julle my en baie ander nie gaan intimideer nie.

Prof. Theo Neethling, politieke kenner van die Universiteit van die Vrystaat, sê die konflik tussen die twee is baie persoonlik van aard.

“Mbalula het Niehaus in Oktober verlede jaar ’n skurk in diens van Ace Magashule genoem. Dit het gebeur nadat die MKMVA, met Niehaus aan die spits, Mbalula verantwoordelik gehou het vir die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se swak prestasie.

“Na dié bekgeveg het Niehaus R8 miljoen van Mbalula geëis in ’n hofgeding. Dit wat ons nou sien, kom neer op ’n voortgesette vete tussen die twee, wat duidelik geen ooghare vir mekaar het nie,” sê Neethling.

Die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga beskou Niehaus en Mbalula as verteenwoordigers van die opponerende faksies in die regerende party.

“Hulle is die groot monde van die twee faksies in die ANC, maar verteenwoordig nie noodwendig die diepere denke van een van die faksies nie,” het Mathekga gesê.


Meer oor:  Carl Niehaus  |  Fikile Mbalula
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.