Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mbalula open opgeknapte N6 in VS

“Ons moet landsburgers bemagtig met vaardigheid sodat hulle gekwalifiseerde en suksesvolle werknemers en diensleweraars in Suid-Afrika kan wees.”

So het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Maandagoggend by die opening van ’n opgegradeerde deel van die N6 buite Smithfield in die Vrystaat gesê.

Die opgraderingsprojek het in die afgelope drie jaar werk aan sowat 390 inwoners verskaf.

“Hulle kon tuis kos op die tafel sit. So kon baie jong studente ook begin met hul opleiding as volwaardige ingenieurs, wat hulle vir die res van hul lewe sal baat,” het Mbalula gesê.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, praat in Smithfield by die opening van die herstelde N6. Foto: Mlungisi Louw

Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, sê die N6 wat deur die Vrystaat loop, is die belangrikste pad in die provinsie.

“Dit is ook die pad wat vir ons die meeste probleme opgelewer het. Dit is ’n moeilike pad wat gereeld gery word en waarop baie ongelukke is.”

Mashinini sê daar was ’n tyd toe kerkleiers van die gebied by die brug oor die Caledonrivier saamgekom het om te bid oor al die ongelukke wat op dié pad gebeur.

Mbalula sê die pad is nou veiliger.

“As ek na die uitstekende werk kyk wat Sanral gedoen het om die pad reg te maak, weet ek die miljoene rande (sowat R28 miljoen) wat ons bestee het, was die moeite werd.”

Fikile Mbalula (regs), minister van vervoer, en Sam Mashinini, staan op die N6-burg oor die Caledonrivier, suid van Smithfield. Foto: Mlungisi Louw

Mashinini moedig padgebruikers aan om verantwoordelike bestuurders te wees.

“Geen genade sal betoon word aan motoriste wat dronk bestuur nie en daar moet veral met die naderende feestyd ernstige klem daarop gelê word.”

Mbalula sê die verbetering van die pad kan as ’n voorbeeld van puik dienslewering beskou word.

“Dienslewering moet een van ons belangrikste prioriteite wees. As jy dit nie doen vir jou land se mense nie, word jy uitgestem.

“Ons kan nie aanvaar dat die ANC vir ewig aan bewind sal wees nie, maar vir so lank soos wat ons is, moet ons die beste vir ons mense doen.”

Die N6-herstelprojek in beeld. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Sanral  |  Fikile Mbalula  |  Vrystaat  |  Pad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.