Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Medelye stroom in nadat jong man verongeluk

Boodskappe van simpatie en ongeloof het op Facebook ingestroom vir ’n jong man wat die afgelope naweek in Uitenhage met ’n motorfiets verongeluk het.

Die motorfietsryer is as Gavin Kriel (21) deur die polisie geïdentifiseer. Die botsing het Sondag omstreeks 17:00 in Caledonstraat gebeur.

Volgens kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, word beweer dat die motorfiets en twee motors, ’n Ford Kuga en Toyota Etios, in teenoorgestelde rigtings gery het toe hulle bots.

Gavin Kriel Foto: Facebook

Kriel is op die toneel dood verklaar. Die insittende van die Ford is in die hospitaal opgeneem, terwyl die insittendes van die Toyota op die toneel vir hul beserings behandel is.

Blomme en kruise is sedertdien deur Kriel se familielede en vriende langs die pad van die ongelukstoneel neergelê.

Kriel se alma mater, die Hoërskool Brandwag in Uitenhage, was van die eerste om ’n boodskap van meegevoel op Facebook te deel.

“Brandwag het met groot hartseer verneem van die afsterwe van Gavin Kriel (matriek 2017). Ons innige simpatie met sy familie en vriende,” lui die boodskap.

Blomme, kruise en foto’s word aan ’n straatlamppaal vasgemaak naby die ongelukstoneel waar Gavin Kriel die afgelope naweek verongeluk het. Foto: Facebook

Larne Smith het op Facebook geskryf: “Min het ons geweet gisteraand was ons laaste kuier. Jy was een wonderlike mens (my broer). Ons Golo. Dit was te vinnig, ons het soveel hoekoms en waaroms. Hoekom jy, jy het nog soveel drome gehad. Verlede week die tyd toe is ons nog by jou (winkel) waar jy soveel planne gehad het, ons gaan jou vreeslik mis, jou plek is leeg hier by ons, maar jy sal altyd in ons harte bly.”


’n Inskrywing op Facebook deur Danielle Els lui: “Jy los ’n oop plek in al die jong manne se hart, sterkte aan al die vriende, familie en sy meisie. God het een van sy beste rugbyspelers kom haal van die aarde af. Eendag speel julle almal weer saam rugby.”


Die wrak van die motorfiets en twee motors wat in die ongeluk betrokke was in Caledonstraat in Uitenhage. Foto: Verskaf

Intussen het bewerings opgevlam dat drank moontlik ’n rol in die ongeluk gespeel het. Luidens die gerugte was een van die motorbestuurders onder die invloed van drank toe die botsing gebeur.

Die gerugte het daartoe gelei dat inwoners van Uitenhage op sosiale media ’n beroep gedoen het dat die tydelike verbod op drankverkope, weens die Covid-19-pandemie, gerespekteer moet word en drank nie op die swartmark verkoop moet word nie.


Swart het by navraag gesê die polisie het slegs ’n geregtelike doodsondersoek tans geopen.

Verklarings word nog bekom, maar geen klagte van dronkbestuur is tot dusver geopen nie en niemand is in hegtenis geneem nie.

Nooddienste en paramedici was spoedig op die toneel in Caledonstraat waar die ongeluk Sondag gebeur het. Foto: Verskaf

Meer oor:  Uitenhage  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.