Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Medelye stroom in vir Bizos

Wyle adv. George Bizos het deurgaans gewys wat die gereg moet en kan wees: menslik, beginselvas, ordentlik, regverdig.

Só het Freedom Under Law (FUL) Donderdag gesê toe dit soos die regering, regs- en politieke organisasies en individue ook hul diep medelye oor die heengaan van dié menseregte-advokaat en kampvegter teen apartheid uitgespreek het.

Bizos (92) is Woensdagmiddag vreedsaam by sy huis aan natuurlike oorsake oorlede.

Bizos word veral vereenselwig met die Rivonia-verhoor waar hy struggle-strydrosse soos Nelson Mandela, Walter Sisulu, Ahmed Kathrada en ander verteenwoordig het.

Adv. George Bizos Foto: Marga Ley

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand in reaksie gesê dat Bizos se afsterwe ’n “baie hartseer oomblik vir die land is”. “Ek het twee maande gelede met George Bizos gepraat en dit het toe al voorgekom dat sy gesondheid nie goed was nie.”

Ramaphosa het Bizos geloof vir sy geweldige bydrae tot die verkryging van demokrasie. “Sy naam was vir ons almal ’n familienaam. Hy het ’n indringende regsbrein gehad en was een van die argitekte van ons Grondwet.”

Oudpres. Thabo Mbeki het deur die Thabo Mbeki-stigting ook sy medelye met Bizos se familie betoon en gesê dat Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie ’n waardige monument is vir Bizos wat as kernfiguur so baie oor ’n lang tyd gegee het vir Suid-Afrikaners om hul gedeelde menslikheid en waardes te eer.

“Sy dood is ’n wekroep vir die samelewing om terug te keer na die waardes van die Grondwet en om die beginsels te eer wat ons demokrasie gevorm het: Ubuntu, menseregte en maatskaplike geregtigheid, sowel as ’n aanspreeklike en regverdige staat.”

Intussen het Nicole Fritz, uitvoerende hoof van FUL waarvan Bizos ’n direksielid was, Donderdag gesê hy sal veral onthou word vir sy oorgrootte rol in die teenstaan van apartheidsvergrype. “Maar sy verbintenis tot geregtigheid het ook verby Suid-Afrika se grense gestrek. Ons by FUL onthou hoe hy net ’n paar jaar gelede in ’n landdroshof in Harare (Zimbabwe) gesit en sy ondersteuning en solidariteit aangebied het aan diegene wat deur polities-gemotiveerde klagtes daar in die gesig gestaar word.”

Mvuzo Notyesi, president van die Wetsgenootskap van Suid-Afrika, het Bizos as ’n “nederige en onverskrokke vegter, ’n morele kompas en ’n leidende lig” beskryf “wie se wysheid en teenwoordigheid gemis sal word”.

Sam Ramsamy, oudpresident van die Nasionale Olimpiese Komitee van Suid-Afrika, het Donderdag gesê dat hy huisvriende met Bizos was waartydens hy dikwels sy konfronterende ervarings met die apartheidsregime, sowel as sy wonderlike oomblikke met Mandela, Sisulu, Kathrada en baie ander struggle-helde aan hulle oorvertel het.

“Hy was altyd beskikbaar vir advies ongeag hoe besig hy was.”

Mangosuthu Buthelezi, IVP-stigter, het gesê Bizos “was nie een wat deur propoganda of intimidasie beïnvloed was nie, maar het die waarheid uitgesoek en ’n voorstaander daarvan geword. Ons gedeelde verbintenis tot menseregte het ’n diep respek tussen Bizos en my geskep.”

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het gesê Bizos was as regsman “vreesloos, beginselvas, toegewyd en ’n legendariese kruisondervraer wat genadeloos was soos hy die leuens, wreedheid en morele bankrotskap van die apartheidsregime en sy agente ontbloot het”.

Sy regspraktyk was volgens die ANC onlosmaaklik verweef met die geskiedenis van die anti-apartheidstryd en die verkryging van demokrasie.

Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het Bizos as ’n “patriot, filantroop, briljante regsbrein en vreeslose held” beskryf. “Hy het die apartheidsregime vreeslik getakel toe dit baie makliker vir hom sou wees om stil te bly.”

Vuyani Pambo, EFF-woordvoerder, het gesê Bizos het nooit sy verbintenis tot menseregte selfs na 1994 versaak nie omdat hy deel van die ondersoek na die Marikana-massaslagting was.


Meer oor:  George Bizos  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.