Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Media24 Boeke sê jammer oor wit paneel

Regstelling:

Hierdie berig het vroeër gesê dat net een van die 18 beoordelaars bruin was. Inderwaarheid was twee van die beoordelaars bruin.


Media24 Boeke het om verskoning gevra dat 16 van die 18 beoordelaars van hul literêre pryse vanjaar wit was.

Die wenners van die Media24 Boekepryse.

Dit volg nadat die Johannesburg Review of Books (JRB), ’n aanlyn letterkundejoernaal, en talle swart skrywers gesê het dit is onverdedigbaar dat ’n paneel grootliks wit beoordelaars slegs wit wenners aangewys het uit kortlyste wat ook meestal uit wit skrywers bestaan het.

In ’n land met ’n swart meerderheid dui dit op “strukturele ongelykhede” in die uitgewerswese, aldus die JRB.

Die skrywer Fred Khumalo het op die JRB se webblad geskryf dat die samestelling van die beoordelaarspanele – waarop een bruin man gedien het – “boekdele spreek” en dat dit daarom “nie verrassend is nie dat die uitslae nie ’n waardering wys vir die oorvloed talent in hierdie land nie, talent in al sy multikulturele en genderdiversiteit. Nie ’n enkele swart beoordelaar nie!”

Niq Mhlongo, wat verlede jaar by die einste toekenningsgeleentheid weggestap het met die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie, het gesê dit is ’n “baie skokkende en ontstellende scenario”.

Foto’s van ’n rits wit wenners “sê baie oor die dinge wat in Suid-Afrika verander moet word”.

Eloise Wessels, besturende direkteur van Media24 Boeke, het Saterdag in ’n verklaring die “tekort aan diversiteit in die beoordelingspanele van die Media24 Literêre Toekennings erken” en gesê dit is “onaanvaarbaar”.

“Ons neem hierdie terugvoering en kritiek van ons medeburgers en die literêre gemeenskap ernstig op en sal aktief aan die kwessies aandag gee om te verhoed dat hierdie oorsig in die toekoms herhaal word,” lui Wessels se verklaring. “Ons veroordeel sterk enige vorm van diskriminasie en bly toegewyd om ’n inklusiewe en diverse werkplek en samelewing te bevorder. Ons het ’n fout gemaak waarvoor ons opreg verskoning vra en is toegewyd om dit in die toekoms reg te stel.”

* Die wenners van vanjaar se Media24-pryse, waarvoor slegs skrywers in aanmerking kom wie se boeke by Media24 se uitgewers verskyn het, is Donderdagaand aangekondig. Hulle is Zirk van den Berg (W.A. Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie vir sy roman Ek wens, ek wens), Jonny Steinberg (Trevor Sachs vir sy debuutroman Lucky Pack­et (Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie); Loftus Marais vir sy digbundel Jan, Piet, Koos en Jakob (Elisabeth Eybers-prys vir poësie); Edyth Bulbring vir The Choice Between Us (M.E.R.-prys vir jeugromans); Fanie Viljoen vir Die dag toe die draak kom (M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke); en Theodore Key as die illustreerder van Die hasie van fluweel (M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke).

Die joernalis Pauli van Wyk, ’n beoordelaar van die Recht Malan-prys, het Vrydag gesê sy het eers met die bekendmaking van die wenners gesien dat die ander beoordelaars wit is, soos sy.

Dit het haar “uiters ongemaklik” gemaak “terwyl daar ’n menigte swart skrywers en swart beroepslui is wat as beoordelaars gekies kon word”. Sy vra dat ’n swart vrou haar in 2021 vervang en het ook haar betaling van R20 000 van die hand gewys.

Dr. Sonja Loots, beoordelaar vir die W.A. Hofmeyr-prys, sê die “polemiek wys maar net weer dat die samestelling van hierdie soort panele prakties en simbolies belangrik is”.

“Natuurlik moet dit divers wees. Daar moet egter in ag geneem word dat dit ’n uitgewer-spesifieke kompetisie was en dat beoordelaars net dié boeke kon beoordeel wat deur die uitgewer voor hulle geplaas is. Om daarom te suggereer dat die beoordelaars die skuld gegee moet word, sou oneerlik en onregverdig wees.”

Loots sê dit sal jammer wees as die indruk gewek word dat die wenner sy prysgeld nie waardig is nie.

Van die 18 beoordelaars was twee bruin mans en drie skrywers van kleur het die kortlyste gehaal.

Die drie wenners wat Rapport Saterdag bereik het, wou nie een kommentaar lewer nie.

Sedert 1994 het 13 skrywers van kleur al die Herman Charles Bosman-prys gewen, waaronder Mhlongo verlede jaar en in 2008.

Verlede jaar was daar twee gekleurde wenners op die verhoog en in 2018 nie een nie.

Die Kwela-druknaam is in 1994 gestig juis om swart skrywers te bevorder.

Die digter Joan Hambidge, professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, het gesê dit is ’n “ingewikkelde kwessie”. “NB Uitgewers (in die Media24-stal) het die afgelope paar jaar geweldig baie gedoen om swart skrywers te bemagtig.”

Hambidge sê “ras- of gender-eise wanneer dit by kreatiewe prosesse kom, is politieke eise. Hoe kan ’n mens eis dat boekpryse demografies verteenwoordigend moet wees? Dit stel ’n eis asof die skryfproses beheer en voorspel kan word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.