Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meer Afrikaanse babas – meer skole nodig

’n Geboortegolf het die Afrikaanse gemeenskap getref. Bruin en wit Afrikaanssprekendes kry weer meer kinders.

Luidens ’n verklaring deur die Solidariteit Beweging is dit een van die “meer opspraakwekkende” bevindings van die 2011-sensus en dit word bevestig deur ’n demografieverslag van die Solidariteit-navorsingsinstituut (SNI) wat eerskomende Woensdag uitgereik word.

Die statistieke wys dat die gemeenskap veel meer verantwoordelikheid aan die dag sal moet lê.

Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, is daar primêr gebruik gemaak van die sensus se statistieke, maar sekondêre bronne is gebruik om die tendens van die 2011-sensus te bevestig.

Doopsyfers is onder meer van kerke aangevra om te bepaal of meer kinders gedoop word.

“Hoewel kerklidmaatskap aan die afneem is, het die doop-per-lidmaat-verhouding net so voor 2011 gestabiliseer en het dit selfs effe toegeneem. Dit beteken eenvoudig dat daar meer dope per lidmaat was, wat die breër tendens van meer kinders in die Afrikaanse en Afrikanergemeenskap onderskryf,” lui die verklaring.

Hierdie geboortegolf-kinders het teen vanjaar (2018) skoolgaande ouderdom bereik.

“Ons was verras deur die tendens, maar ’n mens kon dit in praktyk begin sien aan die nuwe kleuterskole wat in Afrikaanse woonbuurte te voorskyn kom en Afrikaanse laerskole wat vol is,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit Beweging.

“Binne die volgende tien jaar gaan hierdie kinders hoërskole en universiteite benodig. Dit maak die vyandigheid van die regering teenoor Afrikaanse onderrig ’n nog groter probleem wat beslis tot op tersiêre vlak hanteer sal moet word.”

Om die uitdaging van Afrikaanse onderrig in die toekoms die hoof te bied, het Solidariteit ook aangekondig dat sy Skoleondersteuningsentrum (SOS) ’n omvattende plan vir Afrikaanse onderwys gaan ontwikkel. Dit gaan gedoen word in vennootskap met onder meer die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON).

“Meer Afrikaanse kindertjies beteken ons geslag sal meer positief moet dink en te werk gaan wat die toekoms betref. Dit sal verraad wees teenoor kinders wat nog in kleuterskole speel as ons hoop vir die toekoms verloor. Hierdie getalle wys dat hoop-loosheid nie ’n opsie is nie,” sê Hermann.

Ons probeer dit nog verklaar, maar uit ’n sosiologiese oogpunt is daar ’n onderbewuste psige in gemeenskappe wat in ’n onsekere tyd leef: Moet ons ontbind of moet ons oorleef?

Hierdie kinders gaan skole, universiteite en ’n veilige omgewing benodig.

Hermann voer aan “dit is duidelik dat die openbare sektor nie in staat gaan wees om vir hierdie kinders ’n onderwysaanbod te bied nie”.

“Die statistieke wys dat die gemeenskap veel meer verantwoordelikheid aan die dag sal moet lê. Die Solidariteit Beweging gaan aktief werk om ’n behoorlike wêreldklas- Afrikaanse onderwysoplossing vanaf kleuterskoolvlak tot op universiteitsvlak te bied. Ons kan nie meer kinders hê en nié aan ’n toekoms vir hulle werk nie. Ons geslag se taak is om ’n toekoms te help bou waarin hierdie kinders vry, veilig en voorspoedig kan wees,” sê Hermann.

Volgens Mulder is hierdie bevinding slegs een van die bevindings in die SNI se demografieverslag. Hierdie verslag fokus primêr op die getal Afrikaanssprekers en Afrikaners wat in Suid-Afrika is en in die komende dekades gaan wees.

Solidariteit wil egter ’n opvolgstudie doen om te bepaal wat die redes is waarom Afrikaanssprekendes deesdae meer babas kry.

“Ons probeer dit nog verklaar, maar uit ’n sosiologiese oogpunt is daar ’n onderbewuste psige in gemeenskappe wat in ’n onsekere tyd leef: Moet ons ontbind of moet ons oorleef? Dit is in tye van onsekerheid dat mense meer kinders kry om oorlewing te verseker. Mense sit met onsekerheid in Suid-Afrika en besluit om te oorleef, eerder as om te ontbind,” sê Hermann.

Hy sê dis nie die eerste keer dat hierdie verskynsel opduik nie en dat dit ook in oorloë voorgekom het.

“Dit is ’n verrassende, positiewe verskynsel en ons het dit oor en oor bevestig.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.