Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meertaligheid ‘Afrikaans se enigste kans op oorlewing’

Meertaligheid is nie ’n roomys met sjokoladesous nie, dit is ’n vrugteslaai – alle vrugte dra by tot die slaai.

Dít is die enigste kans vir Afrikaans om te oorleef in Suid-Afrika.

Só meen deelnemers aan ’n paneelbespreking oor die stand van Afrikaans in universiteite op die Suidoosterfees by die Kunstekaap in Kaapstad.

Die gesprek was deel van die Jakes Gerwel-gesprekke op die Suidoosterfees wat Saterdag gehou was.

Prof. Steward van Wyk (UWK). Foto: Jaco Marais
Die deelnemers aan die paneelbespreking oor die stand van Afrikaans in universiteite op die Suidoosterfees by die Kunstekaap in Kaapstad. Van links is Freek Robinson, gesprekleier, prof. Steward van Wyk, prof. Rufus Gouws, prof. Angelique van Niekerk en prof. Wannie Carstens. Foto: Jaco Marais

Prof. Rufus Gouws, dosent in Leksikografie en Afrikaanse Taalkunde aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê meertaligheid word oor die wêreld heen gebruik.

“Die tale van die wêreld kan iets by Afrikaans leer en Afrikaans kan iets by die tale van die wêreld leer. Meertaligheid moet op alle vlakke toegepas word, daar moet voorsiening gemaak word vir dit,” het hy gesê.

Prof. Wannie Carstens, hoof van die Skool vir Tale op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, het gesê daar kort ’n politieke wil om alle tale te ontwikkel.

“Ons sal meer as een taal hê, dit het ons aanvaar in 1994 reeds. Dit het egter nie gebeur nie. Die ontwikkeling van Afrika-tale het nie gebeur nie,” het hy gesê.

Suidoosterfees: 27 April - 1 Mei in Kaapstad

Die 14de Suidoosterfees het Donderdag in Kaapstad begin. Dié viering van Kaapse kuns en kultuur by die Kunstekaap-teater in die Moederstad duur tot Maandag.

  • ’n Hoogtepunt van Vrydag se program was die Bollywood-geïnspireerde dansproduksie, Live Love Bollywood. Jaco Marais het die foto’s hieronder geneem tydens hierdie 75-minuut-skouspel.

 

’n Hoogtepunt van Vrydag se program was die Bollywood-geïnspireerde dansproduksie, Live Love Bollywood. Jaco Marais het die foto’s hieronder geneem tydens hierdie 75-minuut-skouspel.
’n Hoogtepunt van Vrydag se program was die Bollywood-geïnspireerde dansproduksie, Live Love Bollywood. Foto: Jaco Marais
’n Hoogtepunt van Vrydag se program was die Bollywood-geïnspireerde dansproduksie, Live Love Bollywood. Foto: Jaco Marais

Carstens sê een van die maniere om meertaligheid toe te pas is vertolking.

“Tolking is pragmaties. Dit werk baie goed, maar dit het sy probleme. Ons kan egter nie net sekere tale vertolk nie. Ons kan nie so aangaan nie, ons sal moet uitbrei. Dit moet in alle rigtings (tale) gedoen word. Meer belangrik is egter dat ons ’n politieke oplossing nodig het. Ons moet eers op regeringsvlak meertaligheid aanvaar en dit in werking stel. As daar ’n wil is, kan dit gebeur,” het Carstens gesê.

Prof. Angelique van Niekerk van die Universiteit van die Vrystaat het op haar beurt gesê die beleidsmakers is onder die indruk dat die wêreld oornag verengels het.

“Almal praat ’n vorm van Engels. Dink hulle die wêreld het Engels geword, of eentalig? Dit is nie so nie. Ons moet Afrikaans bemark en verkoop en dit gebruik om ander tale ook te praat. Mense wil deel wees van iets positiefs en prakties. Dit moet ons met Afrikaans doen,” het sy gesê.

Sy het ook gesê nie-Afrikaanssprekende mense se persepsie oor Afrikaans moet na gekyk word.

“Persepsies is iets baie magtig. Ons moet baie meer doen omtrent dit, ons praat net oor meertaligheid. Ons moet amper ’n intoleransie skep vir Afrikaans (mense wat net Afrikaans praat),” het sy gesê.

Prof. Steward van Wyk, voorsitter van die Afrikaans-departement aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het gesê die dekolonialisering van Afrikaans het lank gelede reeds gebeur. “Ongetwyfeld het studente Afrikaans aanvaar. Die voortbestaan van Afrikaans is opgesluit in ’n nie-rassige samelewing, ons behoort daaraan aandag te gee. Ons kan nog soveel doen.”

Oor die rol van veral die Afrikaanse media het Van Wyk gesê mediagroepe moet wegbeweeg daarvan om publikasies ’n rasprofiel te gee.

Carstens het sy kommer uitgespreek oor die digitale invloed op die media. “Ek vrees dat diegene wat nie toegang het tot tegnologie nie, agtergelaat gaan word. Die koerante raak baie dunner en die joernaliste minder, dit is my bekommernis.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.