Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meeste wat ammoniakgas inasem al ontslaan

Die meeste van die mense wat Vrydagoggend in verskeie hospitale opgeneem is weens die inaseming van ammoniakgas, is teen Vrydagmiddag reeds ontslaan.

Altesaam 15 mense is in verskeie hospitale in Ekurhuleni opgeneem ná ’n ammoniaklekkasie in die aanleg van Festive, ’n afdeling van Astral Foods in Olifantsfontein.

Niemand is dood of ernstig beseer nie.

Die kantoorgebou van Festive, ’n afdeling van Astral Foods in Olifantsfontein. Die fabriek reg oorkant die kantoorgebou is Vrydag ontruim nadat ’n ammoniaklekkasie in die verkoelingsaanleg ontstaan het. Naburige sakepersele is ook ontruim. Foto: Ischke de Jager

Diegene wat in die hospitaal opgeneem is, is werknemers en kontrakteurs van Festive en sluit in mans en vroue tussen die ouderdom van 20 en 50 jaar. Hulle is behandel vir die inaseming van ammoniakgas.

“Ek weet van so 10 mense wat al ontslaan is, terwyl drie – twee werknemers en ’n kontrakteur – nog in die hospitaal is vir waarneming. Ek is nie heeltemal seker van die ander nie,” sê Frans van Heerden, bedryfshoof van Festive.

In ’n stadium is vermoed daar was ’n gasontploffing op die terrein.

’n Ammoniaklekkasie het Vrydagoggend in die verkoelingsaanleg van Festive, ’n afdeling van Astral Foods in Olifantsfontein naby Kempton Park, ontstaan. Altesaam 15 mense is in hospitale in die omgewing opgeneem. Foto: Ischke de Jager

Van Heerden verduidelik daar is groot verkoelingstoerusting wat met ammoniak werk.

“Omstreeks 06:30 is ’n ammoniaklekkasie in ’n verkoelingsaanleg op die terrein waargeneem. Die mense wat hospitaal toe gebring is, was naby dié plek.

“Die lek is vinnig opgespoor en geïsoleer.”

Hy sê protokol is dadelik gevolg en die personeel moes die gebied verlaat. Naburige sakepersele is as voorsorgmaatreël ook ontruim en nooddienste is ontbied.

“Die risiko van ammoniak is dat jy dit nie sien nie. En wanneer jy dit ruik, asem jy dit in.

“Hoewel dit ’n risiko in ons bedryf is, het ons ’n baie streng instandhoudingsprogram.”

Astral Foods het in ’n verklaring gesê die gebied is veilig verklaar deur die Ekurhuleni-nooddienste. Ondersoek word nou ingestel na die oorsaak van die lekkasie.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, het by navraag bevestig dit was ’n ammoniak-lek en dat die lekkasie reeds deur tegnici geïsoleer is toe nooddienspersoneel op die toneel opgedaag het.

Meer oor:  Astral Foods  |  Olifantsfontein  |  Behandeling  |  Aanleg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.