Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meevaller nou 'n nagmerrie vir Vrystater

’n Man van Hennenman in die Vrystaat kon sy geluk nie glo nie toe hy ’n SMS-boodskap kry wat hom inlig dat hy R350 000 gewen het.

Willem Snyman, wat in die vervoerbedryf werk, het gesê hy het in Mei ’n boodskap op sy selfoon ontvang waarin hy dié bedrag gewen het.

Die instruksies was maklik. Hy moes ene Leatitia Steyn op Facebook Messenger kontak.

Die profielfoto wat ene Leatitia Steyn gebruik het op Facebook Messenger. Foto: Verskaf

Snyman het dit gedoen en Steyn het in Engels terug geantwoord.

Volgens Snyman het sy vir hom gesê hy het die prys gewen, maar Snyman het toe gesê dat hy hom nooit vir enige kompetisie ingeskryf het nie.

Dit is die foto wat ene Michael as sy profielfoto op WhatsApp gebruik. By nadere ondersoek is bevestig die man is Frank Furness wat in die fiksheidsbedryf in Amerika werk. Foto: https://fitnessbusinesspodcast.com/tag/fitex/

Sy het vir hom gesê dit is ’n Facebook-kompetisie waar hulle wenners trek.

Sy het net een versoek gehad. Hy moes vir ’n sekuriteitskode betaal sodat die koerierdienste die geld met ’n helikopter by hom kan aflaai omdat hulle dit nie in die Covid-19-inperkingstyd met ’n voertuig sou kon doen nie. Die prysgeld kon egter nie oor die internet oorgeplaas word nie.

Volgens Snyman sou hulle die geld in ’n klein metaalboks plaas en dit kom aflewer.

Volgens Snyman moes hy herhaaldelik betalings doen oor sekuriteitskodes wat hy moes verifieer en ook selfs ’n bedrag aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om te verseker dat die geld wel prysgeld is sodat hulle nie daarop beslag lê nie.

Snyman het gesê hy het altesaam R22 000 betaal en moes van die geld by vriende leen om die betalings te kon doen.

Toe raak dinge vreemder, sê Snyman.

Steyn verdwyn toe en hy moes verder met ene Michael praat.

Skermgrepe van die boodskappe tussen Leatitia Steyn en Willem Snyman. Foto: Verskaf

Snyman het toe lankal snuf in die neus gekry en daarop aangedring dat hulle sy geld terugbetaal.

In Netwerk24 se besit is talle boodskappe tussen Snyman en Michael waar dit duidelik raak dat Michael net fokus op Snyman wat nog een deposito moet maak.

Netwerk24 het herhaaldelik probeer om telefonies met Michael te praat, maar elke oproep is doodgedruk. Hy het wel op WhatsApp-boodskappe gereageer, maar al wat hy gesê het, was dat “Snyman weet wat hy moet doen om die prysgeld te kry”.

Leatitia Steyn het selfs ’n bewys van die sekuriteitskode aan Willem Snyman gestuur sodat hy meer geld moes betaal om sy prysgeld te kry. Foto: Verskaf

Michael is uitdruklik vir sy maatskappy se naam en besonderhede gevra, asook om die hele situasie te verduidelik. Hy het egter versuim om dit te doen.

Hy wou ook nie verduidelik hoekom die geld nie elektronies oorgeplaas kon word nie.

By verdere ondersoek is bevestig die nommer wat Michael gebruik, is ’n Amerikaanse nommer en die foto wat hy as profielfoto gebruik, is van ’n man met die naam Frank Furness wat in die fiksheidsbedryf in Amerika werk.

Netwerk24 het dié inligting aan Micheal oorgedra sodat hy ’n verduideliking kon gee, maar hy het nie daarop gereageer nie.

Snyman het gesê hy het die polisie op Hennenman genader, maar is weggewys omdat “hulle my nie kon help nie”.

Dit is die boks waarin Leatitia Steyn en ene Michael vir Willem Snyman gesê het die geld by hom afgelewer sou word. Foto: Verskaf

Meer oor:  Slenter  |  Hennenman  |  Willem Snyman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.