Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meghan Cremer: ‘Sy was soos my eie dogter’
Familie en vriende by die hek na die Vaderlandsche Rietvlei-perdeplaas om hulde te bring aan die vermoorde Meghan Cremer.

Sowat 100 mense het op Vrouedag, ’n dag nadat Meghan Cremer (30) se lyk onder ’n hoop sand by ’n sandmyn in Philippi gevind is, hulde aan haar gebring deur blomme en swart linte te plaas by die hekke van die Vaderlandsche Rietvlei-perdeplaas waar sy tot haar dood gewoon het.

Meghan CremerFoto: Facebook

Linda Mohr, mede-eienaar van die plaas, het Vrydag gesê Meghan was soos ’n dogter vir haar.

“Ons het so vyf jaar gelede ontmoet toe sy haar perde gebring het om hier te bly. Sy het kort daarna, sowat vier jaar gelede, by ons ingetrek.” 

Sy sê sy sal altyd Cremer se aansteeklike lag en mooi glimlag onthou.

“Sy was ’n baie stil mens, maar baie snaaks en pittig. Sy was geliefd onder haar vriende en familie.”

Cremer was volgens haar op haar gelukkigste tussen haar perde em het onlangs ’n landloopkursus met van haar perde voltooi.

“Die vreugde en die liefde wat ek ná die tyd op haar gesig kon sien . . . dit sal my altyd bybly,” sê Mohr.

Hulle het op kort kennisgewing besluit om Vrydagoggend hulde aan Cremer te bring.

“Mense het op Facebook gereageer en gesê hoewel hulle nie in persoon daar kan wees nie, bring hulle in hul gedagtes hulde aan Meghan.”

Cremer se ma, Gill Cremer, was ook daar.

Mohr sê hulle bly net-net staande.

“Ons ondersteuningsbasis is verstommend. Ons . . . ék sou die trauma van Meghan se dood nooit kon hanteer sonder die mense wat ons ondersteun nie.”

Mense het saam met hulle kom huil, saam met hulle kom treur oor ’n vrou, ’n kind vir wie almal lief was.

“Hier is mense wat vir ons berading kom aanbied het. Ons kan almal net dankbaar wees,” sê Mohr.

Begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

“Ons sal seker in die volgende paar dae daarmee begin.”

Op Facebook skryf Mohr se dogter, Nichola Mohr, ’n roerende boodskap aan Cremer, haar beste vriendin.

Familie en vriende het Vrydag swart linte en blomme by die hek van die Vaderlandsche Rietvlei-perdeplaas ter nagedagtenis aan Cremer gelos.

“Dit is seker die moeilikste ding wat ek nog moes skryf. Ek kan nog nie deur my trane sien nie en ek weet nie hoe ek sal kan aangaan nie.”

Sy skryf Cremer was soos ’n suster vir haar en dat sy haar elke dag gaan mis.

Meghan Cremer se twee perde.

“Die afgelope week was die moeilikste vir ons almal, maar veral vir my omdat ek nie daar was om te help nie. Daar is geen woorde om te beskryf hoe platgeslaan ek is nie, jy is die laaste mens wat dit verdien het en ek wens jy kan sien op hoeveel mense se lewe jy ’n indruk gemaak het en hoeveel mense vir jou omgee.”

Cremer is verlede Sondag as vermis aangemeld nadat sy Saterdag van die perdeplaas verdwyn het. Sy is laas lewend gesien toe sy die plaas om 18:24 in haar wit Toyota Auris verlaat het.

Haar voertuig is die Maandag in besit van drie mans, Jeremy Sias, Charles Daniels en Shiraaz Jaftha, in Lotusrivier gekry. Die drie is in hegtenis geneem. Hulle het Donderdag in die landdroshof in Athlone, Kaapstad, op aanklag van motordiefstal, besit van gesteelde voertuie en moord verskyn.

Cremer se lyk is Donderdagoggend deur een van die beskuldigdes uitgewys waar hulle dit onder ’n hoop sand by ’n sandmyn op ’n plaas in Philippi begrawe het. Sy het ’n tou om haar nek gehad en was ook vasgebind. ’n Lykskouing om die presiese oorsaak van haar dood te bepaal sal volgende week gedoen word.

Die saak teen die beskuldigdes is tot 15 Augustus vir aansoek om borgtog uitgestel.

Meer oor:  Meghan Cremer  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.