
Die Meiringspoortpas is Dinsdagaand ná 'n wolkbreuk gesluit. Foto: Verskaf
Dele van die N12 by dieMeiringspoortpas buite De Rust in die Wes-Kaap was Woensdagoggend steeds vir verkeer gesluit ná ’n wolkbreuk.
Die Garden Route-distriksmunisipaliteit sê in sy jongste verklaring die Meiringspoortpas is steeds gesluit vir verkeer weens die kitsvloede vroeër by Klaarstroom.
"Die watervlak het gedaal, maar die opdrifsels op die pad moet nog verwyder word. Die pas sal oopgemaak word sodra dit veilig vir motoriste is."
Die pad is ’n gewilde roete tussen Oudtshoorn en Beaufort-Wes.
Motoriste word gevra om alternatiewe roetes te gebruik via Willowmore.
Water het Dinsdag by die pas afgestroom.
Jandré Bakker, kommunikasiehoof van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, sê verkeersowerhede het berigte ontvang van ’n bus en kleiner passasiersvoertuie wat in die pas gestrand is.
“Nie een van die padgebruikers is in gevaar nie, maar hulle kan nie verder ry nie omdat laagwaterbrûe oorstroom het,” sê Bakker.
Die munisipaliteit het mense met noodgevalle versoek om die 24-uur-noodsentrum by 044 805 5071 te bel.

Die Meiringspoortpas moes ná 'n wolkbreuk gesluit word. Foto: Verskaf

Motoriste moes 'n alternatiewe roete via Willowmore gebruik. Foto: Verskaf