Meiringspoort buite De Rust naby Oudtshoorn is vir verkeer oopgestel nadat dit Dinsdagaand ná ’n wolkbreuk gesluit is en kitsvloede by Klaarstroom voorgekom het.
’n Waarskuwing teen sterk wind en swaar neerslae in die groter Oudtshoorn-gebied is egter Donderdag uitgereik.
Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit se Facebook-blad is die pas Donderdagoggend weer gesluit, maar by navraag het dit geblyk die pad is oopgestel.
Die munisipaliteit se rampbestuursentrum het ook ’n waarskuwing uitgereik teen sterk wind en swaar neerslae Donderdagmiddag oor die Beaufort-Wes-, Prins Albert- en groter Oudtshoorn-gebied wat tot die aand sal duur.

Dié foto van die vloedwater in Meiringspoort is van Pieter Cilliers ontvang, sê die Tuinroete-distriksmunisipaliteit op sy Facebook-blad. Foto: Facebook/Tuinroete-distriksmunisipaliteit
Jandré Bakker, kommunikasiehoof van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, het vroeër gesê niemand is beseer nie en geen voertuie is beskadig nie. Die voertuie wat in die pas vasgekeer was, was op ’n hoërliggende gebied tussen twee laagwaterbrûe en kon net nie deurry nie.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het vroeër op sy Facebook-blad gesê 45 mm reën het binne ’n halfuur daar geval. Die water het later afgeloop, maar daar was baie opdrifsels en die pad moes skoongemaak word.
Dit is die tweede keer in minder as ’n maand dat Meiringspoort weens swaar reën gesluit is. Die pad was ook op 22 Desember gesluit.