Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meisie (1) dalk blind in 1 oog ná pitbull-aanval

Daar word gevrees dat die eenjarige Miané Pienaar blind in haar regteroog kan wees nadat ’n pitbull-hond haar in die gesig gebyt het.

Gert Pienaar, Miané se pa, het Woensdag vertel hoe hy die hond aan die keel gegryp en uit die gesin se erf in Vanderbijlpark in die suide van Gauteng gegooi het.

Miané Pienaar in die hospitaal nadat ’n hond haar aangeval het. Haar pa, Gert Pienaar, sê haar beserings is nie so ernstig as wat dit op hierdie foto lyk wat op Facebook versprei is nie. Foto: Facebook

Miané en haar driejarige sussie, Agenessa, het verlede Vrydag voor in die erf gespeel toe die hond glo van buite ingekom en hulle aangeval het. Agenessa kon egter betyds die huis in hardloop.

Miané is sedertdien in die Sebokeng-hospitaal naby Vereeniging, maar sal Donderdag na ’n oogkliniek by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word.

“Die dokters wil seker maak daar is nie skade in haar oog nie,” sê Pienaar.

“Hulle is bang sy kan dalk blind word in die oog (indien sy nie gou genoeg behandeling kry nie). Die hond se tand het vermoedelik in haar oog gehaak.”

Intussen hardloop Miané reeds in die hospitaal rond. “Buiten die kommer oor haar oog, is sy nie ernstig beseer nie,” sê Pienaar. “Sy het drie steke gekry om snye aan haar voorkop te heg en haar wang is gekneus.”

Pienaar sê hy het “groot geskrik” toe hy sy dogtertjie Vrydag hoor skree en huil en hy die baie bloed gesien het.

“Sy en Agenessa was in die voorste deel van ons erf. Daar is hoë mure om die huis en ’n hekkie. Die hekkie was egter effens gebuig. Ons vermoed die hond, wat saam met ander honde in vullissakke buite die erf gekrap het, het teen die hekkie gespring en toe gaan dit oop.”

Die hond het eerste op Agenessa afgepyl, sê Pienaar.

“Sy het by die huis in gehardloop en ‘hond, hond!’ geskree.”

Die hond het blykbaar toe sy aandag op klein Miané, wat ’n pakkie skyfies in haar hand gehad het, toegespits. Hy het haar vermoedelik net een keer in die gesig gebyt. Pienaar het haar kort daarna te hulp gesnel. Hy het haar opgetel en aan haar ouma, Anna Venter, gegee.

“Ek het die hond aan sy keel gegryp en by die erf uitgegooi.”

Die eienaar was baie geskok dat die hond die kinders aangeval het. Hy sê die honde is nie aggressief nie.

Pienaar sê hulle weet nie aan wie die hond behoort nie. “Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het die honde Vrydagmiddag kom haal nadat ons hulle gebel het.”

Marlien de Klerk, bestuurder van die DBV in Vanderbijlpark en Vereeniging, het bevestig dat hulle Vrydag twee pitbulls naby die Pienaars se huis gaan haal het.

“Die eienaar van die honde het hulle Donderdag reeds as vermis aangemeld nadat die honde uit hul erf weggeraak het.”

Volgens De Klerk woon die eienaar van die honde en die Pienaars ver van mekaar.

“Die eienaar was baie geskok dat die hond die kinders aangeval het. Hy sê die honde is nie aggressief nie.”

De Klerk sê sy kan nie die eienaar se besonderhede bekend maak nie.

“Die Pienaars kan wel ’n klag by die polisie indien ingevolge wetgewing vir wanneer diere mense aanval. Ons kan slegs die eienaar se besonderhede aan die polisie gee wanneer ’n ondersoek begin.”

Meer oor:  Vanderbijlpark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.