Die Nuwejaar het vroeg Dinsdagoggend tragies vir ’n familie in Port Elizabeth begin toe ’n tienjarige meisie by ’n hotel se swembad verdrink het.
Yolanda Tututu is omstreeks 02:20 in die oggend by die Courtyard Hotel in Somerstrand dood verklaar.
Die meisie, wat by haar ma in King William’s Town in die Oos-Kaap woon, was Oujaarsdag blykbaar onder die toesig van haar oom en tannie, wat albei gaste by die hotel in Port Elizabeth was.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die meisie was gedurende die vroeë oggendure saam met haar tannie by die swembadgebied. Die tannie het egter die kind uit die oog verloor. Die tannie het Yolanda in hul hotelkamer gaan soek en toe sy haar nie in die kamer vind nie, het sy die hotel se personeellede se hulp ontbied.

’n Swembad by die Courtyard Hotel in Somerstrand in Port Elizabeth. Foto: safarinow.com
Volgens Naidu is die meisie op die bodem van die swembad aangetref nadat personeellede die swembad-gebied tussen die talle mense deursoek het.
Die vermoede is dat sy per ongeluk by die swembad ingeval het sonder dat iemand opgelet het.
Yolanda was nog semi-bewusteloos toe sy uit die water gehaal is, maar is ondanks die paramedici se bystand kort daarna dood.
Die City Lodge-hotelgroep het by navrae die verdrinking in hul hotel bevestig.
“Ons is geskok en hartseer oor die voorval en stuur ons meegevoel aan die kind se familie.
“Ons bestuur en personeel het die situasie vinnig en professioneel hanteer. Ons is ook dankbaar vir die nooddienspersoneel wat ingetree het.
“Die polisie ondersoek die voorval,” sê Lindiwe Sangweni-Siddo, bedryfshoof, in ’n verklaring.
By navrae oor die hotel se veiligheidsmaatreëls rondom die swembad, was die reaksie dat geen verdere besonderhede tans beskikbaar is nie omdat die saak nog ondersoek word.
Siyabonga Dzeya, Yolanda se pa, wat in New Brighton woon, was Dinsdagoggend op die toneel, maar dit is nog onduidelik waar hy tydens die verdrinking was.