Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meisie (11) se arm afgeruk in bootongeluk op dam

’n Meisie (11) van Hartbeespoort in Noordwes se linkerarm is Saterdag afgeruk tydens ’n fratsongeluk met die gesin se boot op die Hartbeespoortdam.

Clarissa van Staden (11) van Hartbeespoort in Noordwes se linkerarm is Saterdag afgeruk gedurende ’n bootongeluk op die Hartbeespoortdam. Foto: Facebook/Johan van Wyk

Clarissa van Staden, ’n leerling aan die Laerskool Generaal Hendrik Schoeman in Schoemansville, Hartbeespoort, sterk steeds in ’n hospitaal in Johannesburg aan.

Haar oupa, Johan van Wyk, is die onderhoof van die skool.

Luidens inligting van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) was Clarissa Saterdag saam met haar ouers op ’n boot op die dam.

Arthur Crewe, bevelvoerder van die NSRI in Hartbeespoort, sê die skiboot het omstreeks 15:00 teen ’n boomstomp, wat gedeeltelik bo die water uitgesteek het, gebots.

JJ van Staden en sy vrou, René, is saam met Clarissa en haar boetie, Juvan (5), van die boot geslinger. Daar was ook ’n 11-jarige seun wat weens die slag van die boot afgeslinger is.

Die NSRI het ’n reddingsboot uitgestuur na die plek naby die Ifafi-watersportklub om hulle te red.

Clarissa se linkerarm is vermoedelik deur ’n skroef van die boot getref en afgeruk. Haar ouers, broer en die 11-jarige maatjie is nie beseer nie.

Die NSRI sê die boomstomp het vermoedelik in die dam beland ná die onlangse swaar reën en vloede wat die Krokodilrivier sy walle laat oorstroom het.

Die Hartbeespoortnooddienste is na die toneel ontbied en het Netcare 911 se hulp ingeroep sodat Clarissa met ’n helikopter hospitaal toe geneem kon word.

Van Wyk het Donderdag op Facebook geskryf dat sy kleindogter wakker is.

“Ons blommetjie het vandag opgestaan. Sy is ’n vegtertjie en die Vader sal haar nie uit sy hand los nie.”

Hy het gesê Clarissa se infeksietelling het afgeneem.

Maritha van Wyk, haar ouma, het gesê sy “gesels en eet” en het al fisioterapie ontvang. “Sy verlang ook na haar maatjies.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.