Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meisie neem eie lewe weens juffrou wat haar glo boelie

’n Ma van ’n hoërskoolleerling is “dood binne” nadat haar dogter haarself om die lewe gebring het omdat sy na bewering deur ’n onderwyseres geboelie is.

Nicole Mnguni
Nicole Mnguni Foto: Facebook

Jeska Mnguni (46) het Dinsdagaand op haar dogter, Nicole (18), se lyk in die kombuis van hul huis afgekom. In ’n brief wat die tiener agtergelaat het, skryf sy dat ’n onderwyseres van die Hoërskool Vorentoe in Rossmore, Johannesburg, haar boelie en dat “sy dit nie meer kan hanteer nie”.

Nicole sou vanjaar in matriek gewees het.

Haar ma sê die streekskantoor van die departement van onderwys in Gauteng het reeds sedert September verlede jaar berading aan haar kind verskaf en sy was op die punt om haar uit die skool te haal weens die geboelie.

“Buiten (die sekere vak) waarmee sy gesukkel het, was my kind ’n all-rounder. Sy het vakke soos rekeningkunde en Besigheidstudies geneem, hokkie en sokker gespeel, was lief vir kook en was mál oor teken. Sy kon só mooi teken,” sê die aangedane ma in haar huis in Klipspruit in Soweto, in die suide van Johannesburg.

Die Mnguni’s het in 2006 uit Zimbabwe na Suid-Afrika geïmmigreer.

Mnguni is self ’n onderwyseres. Sy moes juis Dinsdag by die skool waar sy onderrig gee, die Mdelwa Hlongwane Primary School in Pimville, wees en kon daarom nie Nicole se rapport by die Hoërskool Vorentoe afhaal nie.

Sy het ’n brief saam met Nicole gestuur waarin sy die situasie verduidelik en die skool versoek om steeds die rapport te gee.

Die brief wat Nicole Mnguni agter gelaat het.

“Nicole het my laat weet sy mag nie haar rapport kry nie, maar sy het haar punte gesien. Sy het (die vak wat die betrokke onderwyseres aanbied) gedruip. Die onderwyseres het vir my kind gesê sy ‘sit weer opgeskeep met haar vanjaar’.”

Mnguni sê sy het die onderwyseres by ’n vorige geleentheid al ontmoet, toe sy ’n probleem by die skool kom hanteer het. Sy sê terwyl sy by die kantoor gestaan en wag het, het Nicole en die onderwyseres albei daar aangekom.

“Sy het vir my gesê ek mors my geld om my kind in die skool te hou, want sy gaan nêrens in die lewe kom nie. Sy het net aangegaan oor hoe ’n nikswerd my kind is. Nicole het so gehuil.”

Mnguni skryf die geboelie toe aan rassisme – ook in die lig van hoe sy, as Nicole se ma, voor die hoof se kantoor hanteer is.

My kind het reeds swaar gekry. Ek is baie sieklik en ons sukkel finansieel. Moes hulle bydra tot haar las?

“Nicole het vertel hoe die onderwyseres altyd die kombinasie van haar Engelse naam en Zimbabwiese van verkleineer het, asook haar bos hare. Sy was so trots op haar mooi vel en haar hare. In ’n stadium het die skool gesê al die kinders moet nuwe skoolserpe kry. Ek kon nie in daardie stadium ’n serp bekostig nie, maar die onderwyseres het haar gaan uitsoek om te vra waarom sy nie die serp dra nie.”

Sy sê haar kind was nie ’n toppresteerder nie, maar sy het ook nie haar ander vakke gedruip nie.

“Dalk het sy net ’n bietjie tyd en aanmoediging nodig gehad met (die vak). My kind het reeds swaar gekry. Ek is baie sieklik en ons sukkel finansieel. Moes hulle bydra tot haar las?”

Volgens Mnguni kry Nicole se ousus, Laura (23), baie swaar.

“Sy weier dat enigiemand in haar en Nicole se slaapkamer ingaan.”

Die Hoërskool Vorentoe
Die Hoërskool Vorentoe. Foto: Verskaf

Mnguni sê sy voel dat die skool haar kind in die steek gelaat het deur nie op te tree toe sy die onderwyseres se gedrag aangemeld het nie.

Intussen het daar ’n herrie op sosiale media losgebars en word ’n protesoptog na die skool beplan, waar ’n memorandum, wat onder meer eis dat die onderwyseres geskors word, oorhandig sal word.

Die onderwyseres het regshulp ingeroep en ’n prokureursbrief aan ’n sosialemediagebruiker gestuur om haar teen verdere “laster” te beskerm.

Die onderwyseres se naam is bekend aan Netwerk24, maar word weerhou omdat sy nie die geleentheid gehad het om op die bewerings teen haar te reageer nie.

Op navraag of daar teen die onderwyseres opgetree gaan word ná die boeliebewerings, het die provinsiale departement gesê hy “ondersoek die saak”.

Steve Mabona, woordvoerder, sê sielkundige berading word aan Nicole se skoolmaats verskaf.

Die skool het by navraag gesê hy mag geen kommentaar lewer hangende die departement se ondersoek nie.

Kapt. Hitler Ngwenya, polisiewoordvoerder, sê die Kliptown-polisiekantoor doen ’n geregtelike doodsondersoek.

Meer oor:  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.