Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meisie neem eie lewe ná video glo versprei is

’n Suggestiewe video wat op sosiale media versprei is, is glo die rede waarom ’n gr. 6-leerling van die Doornpoort Primary School in Pretoria haar eie lewe geneem het.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement van onderwys, sê die meisie is verlede week deur ’n gr. 7-leerling geboelie wat gedreig het om “ ’n video waarin sy naak is te versprei”.

Ander betroubare bronne beweer egter die meisie was nie naak nie. Sy was wel skraps geklee en het in die video ge-twerk, ’n soort dansbeweging waarin die boude geswaai word.

Die Doornpoort Primary School in die noorde van Pretoria. Foto: Christiaan du Plessis

Volgens Mabona het die meisie die afknouery Donderdag ná skool aangemeld by haar onderwyser wat lewenswetenskappe aanbied.

“Voordat daar teen die leerling opgetree kon word, het die voorval plaasgevind,” sê Mabona.

Na verneem word, is die video op verskeie WhatsApp-groepe versprei.

Die meisie se ouers het Maandag by hul huis op haar lyk afgekom.

’n Onderwyseres by die skool sê personeel en baie leerlinge sukkel om die leerling se dood te verwerk.

“Op sosiale media word die personeel verskriklik sleg gesê, maar die meeste het nie geweet sy word geboelie nie. Dit was vir ons ’n groot skok om te hoor en ons sukkel nog om dit te verwerk,” het die onderwyseres, wat anoniem wil bly, gesê.

Die skool het Maandag nog gesukkel om die ouers te kontak om reëlings vir ’n moontlike gedenkdiens by die skool te tref.

Volgens Mabona word berading aan die familie en aan die skoolgemeenskap gegee.

“Die saak word ondersoek en al die nodige stappe sal teen leerlinge gedoen word wat daarby betrek word,” sê hy.

Ouers wat vermoed hul kinders word geboelie, kan bedag wees op veranderinge in slaappatrone en skoolpunte wat daal.

Ook die polisie ondersoek die voorval.

Beweringe dat die meisie verlede week by die skool “gestamp en stoot is”, is deel van die polisie se ondersoek, het ’n betroubare bron aan Netwerk24 gesê.

Sonja Carstens van die Sinoville-rampsentrum, wat die skool met berading gehelp het, sê die meisie se ouers is nie nou bereid om met die media te praat nie.

Dr. Barbara Louw, ’n berader en traumakenner, sê mense ervaar ’n geboelie erger op sosiale media omdat mense nie daarvan kan wegloop nie.

“Vir tieners is dit wat op sosiale media gesê word dikwels kommentaar op wie hulle as persoon is,” sê Louw.

Sy meen dat jonger tieners dikwels nie die sosiale vaardighede het om behoorlik met sosiale media om te gaan nie.

“Ouers wil dikwels hul kinders se privaatheid respekteer, maar sosiale media hou verskeie gevare in. Daarom glo ek dat tieners, veral jonger tieners, nie onbeperkte vryheid gegun moet word nie,” sê Louw.

Ouers wat vermoed hul kinders word geboelie, kan bedag wees op veranderinge in slaappatrone en skoolpunte wat daal.

“Die maklikste is natuurlik om met hulle te gesels,” sê sy.

In gevalle waar iemand sy eie lewe wil neem, kan die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) se noodnommer, 0800 567 567, gebel word.

Meer oor:  Steve Mabona  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.