Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meisie op onnie se rug: Ouers vertel van amputasie
Angela Motswamere Foto: Verskaf

Aktief, vasberade en ’n wil van haar eie.

Dit is hoe Angela Motswamere (5) deur haar ouers beskryf word.

Angela is ’n gr. O-leerling aan die Curro Private Skool in Kathu in die Noord-Kaap. 

Sy het die sosiale media gaande gehad nadat ’n onderwyser aan die skool haar op sy rug getel en gehelp het om die 60 m-item op die skool se atletiekbyeenkoms saam met haar klasmaats te voltooi.

Abraham Motswamere, Angela se pa, wat as 'n bou-inspekteur werk by die Gamagara Munisipaliteit in Kathu, sê sy was net ses maande oud toe haar bene onder die knie geamputeer is.

“Sy is sonder ’n tibia gebore. Ons was by verskeie spesialiste en niemand kon vir ons ’n oplossing gee nie.

“Die laaste spesialis wat ons in Pretoria gespreek het, het aanbeveel haar bene moet geamputeer word. As ons dit nie gedoen het nie, sou sy baie pyn moes verduur soos sy ouer word.”

Abraham sê die amputasie is gedoen met die doel dat Angela proteses sou kry.

“Sy het prostetiese bene by die huis, maar weier om daarop te loop. Sy hou glad nie daarvan nie. Ons hoop mettertyd sal sy leer om hulle te gebruik.”

Rachel Motswamere, Angela se ma, sê dit was vir haar baie moeilik toe haar baba se bene geamputeer moes word.

“Dit was hartseer. Ek het nie geweet wat om te verwag nie. My kind sou permanent in pyn wees as ons nie amputeer nie.”

Maar Angela het aan haar ouers bewys dat niks haar sal keer om voluit te leef nie. Toe sy nege maande oud was, het sy al op haar stompies begin loop en die muur as stut gebruik.

As sy iets in die yskas soek, sal sy op ’n stoel klouter en vir my wys wat sy wil hê as sy nie self by dit kan uitkom nie
Rachel Motswamere

“Angela is baie aktief. Sy sal op en af klim op die banke. As sy iets in die yskas soek, sal sy op ’n stoel klouter en vir my wys wat sy wil hê as sy nie self by dit kan uitkom nie,” sê Rachel met trots.

“Ek gril soms wanneer sy die badkamer moet gebruik. Sy gebruik haar hande om op die toilet te druk sodat sy kan opklim. Ek dink altyd net aan al die kieme wat sy kan kry. Dis soms moeilik in openbare plekke, omdat die badkamers toeganklik is vir volwassenes met gestremdhede, maar nie vir kinders nie.”

Rachel sê wanneer hulle in ’n winkelsentrum loop en ander kinders Angela sien, verstaan hulle nie wat met haar gebeur het nie.

Rachel en Abraham Motswamere. Foto: Lecrecia Prins

“Toe Angela die eerste keer skool toe is, was die kinders eers bang vir haar, omdat hulle nie verstaan het hoekom Angela nie bene het nie. Die kinders vra altyd wat het met haar gebeur, maar ons as ouers kan hulle nie blameer nie, want hulle verstaan nie.”

Abraham en Rachel sê hulle probeer om Angela bloot te stel aan mense wat ook op proteses loop sodat sy kan sien net omdat sy nie bene het nie, beteken nie sy kan nie doen wat haar hart begeer nie.

Haar ouers sê soms vra sy ongemaklike vrae wat hulle nie kan beantwoord nie.

“Maandag het ons haar die Volksblad gewys waar sy op die voorblad was. Sy het gevra of sy ook met haar onderwyser se bene kan hardloop as sy eendag groot is. Ons het nie geweet hoe om haar te antwoord nie.

“Soms sal sy ook wys dat haar bene gegroei het en dat sy ook eendag bene gaan hê soos ons.”

Rachel sê wanneer sy iemand op televisie sien wat met proteses loop, sal sy altyd vir Angela wys en sê sy gaan ook eendag so kan loop.

Rachel sê Angela is baie lief vir diere. Sy het ’n klein hondjie, Chi-chi, waarmee sy slaap. Sy is ook baie lief vir animasieprogramme.

“Wat my die seerste maak, is wanneer sy vir my vra of sy ook eendag met haar eie bene sal kan loop en nie proteses nie.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Kathu  |  Hardloop  |  Onderwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.