Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mej. SA 1948 se boodskap aan Shudu
Avelyn (Toetie) Macaskill toe sy Mej. SA gewen het in 1948. Foto: Verskaf

Die eerste wenner van die Mej. SA-kompetisie ná die Tweede Wêreldoorlog, Avelyn Macaskill, wat op 9 Maart 1948 gekroon is, het ’n spesiale boodskap aan die nuwe wenner van dié titel.

Shudufhadzo (Shudu) Musida (24) van Ha-Masia in Limpopo is Saterdagaand as die wenner gekroon.

“Liewe Shudufhadzo. Jy is op die punt daarvan om die mees onvergeetlike jaar in jou jong lewe aan te pak,” skryf Macaskill, ’n Bloemfonteiner wat nou in Kaapstad bly, in ’n boodskap aan Musida.

“Om jou pragtige land te verteenwoordig is ’n groot verantwoordelikheid. Vir die volgende 12 maande sal jy die gesig van Suid-Afrika wees en ons vertrou almal dat jy ons geliefde land se naam hoog hou soos die jong dames voor jou. Hamba Nothixo, gaan met God.”

Macaskill is destyds deur genl. Jan Smuts in die Johannesburgse stadshuis gekroon en onder die beoordelaars was die destydse Mej. Amerika, Mej. Frankryk en Mej. Groot Brittanje.

Vandag, op 91-jarige ouderdom, woon sy onder haar bynaam en getroude van, Toetie van Reenen, saam met haar man van 43 jaar, Ronnie, in ’n aftreeoord in Bergvliet, Kaapstad.

Hy beskryf haar as “die pragtigste mens wat hy nog ooit teëgekom het”.

Om jou pragtige land te verteenwoordig is ’n groot verantwoordelikheid.

Haar prys destyds is geborg deur die Wolraad en het ’n toer na Nederland ingesluit, waar sy met ’n stampvol stadsaal gepraat het oor Suid-Afrika.

In Frankryk het sy ’n uitvoering deur die Franse sangeres Edith Piaf bygewoon en sy het ook na Brittanje en Amerika gereis. In Amerika het sy ’n week in Hollywood deurgebring, waar sy baie van die sterre van die dag ontmoet het.

Gedurende die res van haar jaar het sy skoue, modevertonings, konserte en vele meer oor die hele Suid-Afrika bygewoon.

Twee jaar gelede is sy afgeneem saam met Penny Coelen Rey, die Suid-Afrikaanse Mej. Wêreld in 1958.

Toetie van Reenen en Penny Coelen, albei voormalige Mej. SA’s, toe hul mekaar twee jaar gelede gesien het. Foto: Verskaf

Musida, wat nou in Randburg, Johannesburg, woon, sê: “My naam is Shudufhadzo Musida en ek is Mej. Suid-Afrika 2020. Dit voel nog steeds so onwerklik.

“Ek wil my Hemelse Vader, die almagtige God, bedank. Om elke dag wakker te word en te weet dat U altyd aan my sy is, is genoeg vir my. Ek staan nou hier danksy almal wat voor my gekom het. My voorouers waak elke dag oor my.

“Ek staan vandag hier as Mej. Suid-Afrika met groot trots en vreugde om so ’n pragtige nasie te verteenwoordig – een van die eerste Venda-vroue, maar beslis nie die laaste nie.”

Die eerste naaswenner is dr. Thato Mosehle (25) van Klerksdorp in Noordwes, en die tweede naaswenner is Natasha Joubert (22) van Centurion, Gauteng.

Ek wil my Hemelse Vader, die almagtige God, bedank. Om elke dag wakker te word en te weet dat U altyd aan my sy is, is genoeg vir my.
Shudufhadzo (Shudu) Musida van Limpopo, Mej. SA 2020.Foto: Verskaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.