Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Melkplaas in staatsbeheer nou net ’n bouval
Dis al wat oor is van ’n plaashuis op ’n voormalige spogplaas naby Hartbeesfontein in Noordwes. Foto: Susan Cilliers

Sestien jaar gelede het die Hartbeesfontein-omgewing in Noordwes met ’n melkplaas van wêreldgehalte met internasionale genetika gespog.

Die destydse nasionale departement van grondsake het dié en verskeie ander plase naby Hartbeesfontein in die vroeë 2000’s gekoop.

Die vorige eienaars se aanbod om as mentors op die melkplaas op te tree, is glo nie aanvaar nie en regeringsondersteuning was na bewering gebrekkig.

Dié plaas het mettertyd so agteruitgegaan dat die Dierebeskermingsvereniging ’n paar jaar gelede van die diere van kant moes maak. Die melkplaas is nou heeltemal verlate, vervalle en oorgroei.

Volgens ’n boer in die omgewing het ’n Johannesburgse sakeman die plaas onlangs op ’n veiling gekoop.

Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming reageer sedert April nie op herhaalde versoeke om kommentaar oor die ooglopende verval op die regeringsplase naby Hartbeesfontein en hoeveel geld daarin belê is nie.

Dis al wat oor is van ’n melkery op ’n voormalige spogplaas naby Hartbeesfontein in Noordwes. Foto: Susan Cilliers

Daar is geen boerderybedrywighede op enige van die sowat agt plase nie.

Ingeligtes sê die regering het dit destyds gekoop sodat die bestaande werkers daar kon aanhou boer. “Hulle wou nie boere in die omgewing se leiding aanvaar nie en die staat het nie sy beloftes teenoor die begunstigdes nagekom nie,” het een boer vertel.

Annelize Crosby, ’n kenner oor grondbeleid by Agri SA, sê grondhervormingspogings soos dié misluk onder meer omdat die begunstigdes meestal groepe mense is.

“Hulle begin baklei oor hoe die boerdery behartig moet word. ’n Gebrek aan mentorskap, onder meer omdat mentors wantrou word, is nog ’n probleem.”

Volgens Crosby toon betroubare navorsing regeringsbegrotings vir landbou en grondhervorming het mettertyd afgeneem.

“Daar is dikwels nie genoeg geld vir die koop én ontwikkeling van die grond nie. Die koopbedrag is net ’n derde van die koste, die res is nodig vir ontwikkeling. Gebrekkige ondersteuning vir ontwikkeling speel dus ook ’n rol.”

Een van die buitegeboue op ’n eens volledig gemeganiseerde melkplaas naby Hartbeesfontein in Noordwes. Die gebou is nou geplunder en geen boerderybedrywighede vind meer hier plaas nie. Foto: Susan Cilliers
Die plaashuis op ’n eertydse spogplaas naby Hartbeesfontein in Noordwes is nou geplunder, gestroop en verlate.Foto: Susan Cilliers
Dié vervalle gebou was eens ’n spoggerige plaaswoning naby Hartbeesfontein in Noordwes. Dis egter nou gestroop en vervalle nadat die regering die grond van die vorige eienaar gekoop het.Foto: Susan Cilliers

Nog ’n struikelblok is dat regeringsplase in die staat se naam geregistreer word en die begunstigdes dan nie titelaktes kry nie. “Hulle het dan geen vastigheid nie en niemand wil vir hulle geld leen nie.”

Crosby sê in die minderheid van gevalle waar grondhervorming suksesvol is, is dit weens werklik sinvolle, funksionele vennootskappe tussen die staat en die private sektor, veral ten opsigte van mentorskap.

“Die Nasionale Wolkwekersvereniging het byvoorbeeld wolboere in die Transkei met behulp van ’n projek wat deur die regering gefinansier is, gehelp om hul produksie te verbeter, wat daartoe gelei het dat die per capita-inkomste in ’n arm gebied nou heelwat hoër is. Graan SA het ook suksesvolle mentorsprojekte met opkomende boere.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.