Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Melville: ‘Oog op elke straat nodig’
Pastoor Sammy Masemola seën die lewe van die oorledenes op die sypaadjie van die restaurant met heilige water. Foto: Felix Dlangamandla

Die Johannesburg-metro sê hy wil kringtelevisiekameras oor die metro heen oprig ná die Nuwejaarsdag-skietvoorval in Melville wat die lewe van twee vroue geëis het.

“Die vierde nywerheids­revolusie is op ons en soos wat misdadigers meer gesofistikeerd raak, so moet die polisie ook aanpas,” het Jolidee Matongo, burgemeesterslid van finansies van die Johannesburgse metro, Sondagaand gesê.

Matongo het gepraat op die multigeloofsdiens wat Sondagmiddag by die Poppy’s-restaurant gehou is om die slagoffers te herdenk wat Woensdag omstreeks 01:00 in ’n verbyryskietery by dié restaurant geskiet is.

Minstens ses mense is beseer en twee vroue, Samantha Basdew en Liana Petersen, is in die voorval dood.

Matongo sê die beeldmateriaal van die beoogde kringtelevisiekameras sal regstreeks deur polisielede dopgehou word sodat voorvalle soos dié verhoed kan word.

“Die wette in die land moet strenger en die tronk minder aanloklik wees.

“Daar kry hulle drie maaltye per dag terwyl mense in ons eie gemeenskappe nie eens een keer ’n dag eet nie – en dit alles deur die belastingbetaler se geld,” sê Matongo.

Kwessies oor die bestuur van drank- en vermaaklikheidslisensies in die omgewing word sedert die skietvoorval bevraagteken.

Motongo sê hy self was jare lank in die Drankraad en organisasies soos die Melville-inwonersvereniging het hulle op hul tone gehou.

Ralph Fredericks, wat in die voorval geskiet is, woon saam met Sherwin Basdew die diens by. Sherwin se vrou, Samantha, is in die voorval doodgeskiet. Foto: Felix Dlangamandla

“Die regering kan nie die geveg teen misdaad alleen wen nie en organisasies soos dié is nodig,” sê Motongo.

Geloofsleiers van die Moslem-, Hindoe-, Joodse en Christelike godsdienste het die sowat 200 mense toegespreek wat die diens bygewoon het.

Elkeen se boodskap was gesentreerd om vrede en liefde vir ander mense.

“Wanneer jy een mens doodmaak, maak jy ’n hele mensdom dood. Hierdie mens het die hele mensdom twee keer doodgemaak,” het Imam Seyed Hosseini, die Moslem-leier, gesê.

Past. Sammy Masemola, die Christelike leier, het die lewe van die oorledenes op die sypaadjie van die restaurant met heilige water geseën.

Juby Raja, oftewel Poppy, die eienaar van Poppy’s-restaurant, het nog nie ’n woord ná die voorval gerep nie en was in trane tydens die diens.

Haar broer, Dean Ebden-Hitzeroth, het die verdagtes as “lafaards” bestempel.

“Dit was ’n sinnelose misdaad wat ons hele gemeenskap geruk het en ons harte gaan uit na die families van die slagoffers en oorledenes,” het Ebden-Hitzeroth gesê.

Juby Raja, oftewel Poppy, die eienaar van Poppy’s-restaurant, ten tyde van gisteraand se diens. Foto: Felix Dlangamandla

Ralph Fredericks, wat in die voorval gewond is, het die diens saam met Basdew se man, Sherwin Basdew, bygewoon.

Fredericks het langs Basdew gestaan toe sy doodgeskiet is. Haar man was in daardie sta­dium in die badkamer.

“Ek kan onthou ek het stil geword en met die Groot Man gepraat en gesê Hy moet nou besluit: Of Hy vat my, of Hy los my,” het Fredericks gesê.

’n Koeël het hom in die hand en in die bors getref. Sy pyn is egter minder, sê hy, “en ek het nie meer trauma van die voorval nie”.

Lerato Molefe, ’n karwag wat in die voorval in die kop geskiet is, is steeds in ’n kritieke toestand in die Helen Joseph-hospitaal.

Joyce en Lungile Nkambule, onderskeidelik Molefe se ma en suster, het ook die diens bywoon.

“Hy is steeds in die waak­eenheid, maar dokters kon die koeël uit sy brein verwyder. In dié stadium lyk dit of hy nie weer sal kan praat nie,” sê Joyce.

Sy bestempel die aanval as “onnodig en barbaars”.

Intussen het brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, gesê niemand is nog vir die voorval in hegtenis geneem nie, ten spyte van die waarnemende premier, Panyaza Lesufi, wat Vrydag beloof het ’n deurbraak is naby.

Steve Mabona, Lesufi se woordvoerder, sê hulle sal die publiek op die hoogte hou.

Meer oor:  Melville-Skietery  |  Diens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.