Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Melville: ‘Tyd bring geen genesing ná skietery’

Sherwin Basdew maak op die eerste dag van elke maand ’n kruisie op die almanak.

Maandag het hy die sesde kruisie getrek sedert sy vrou, Samantha, in die vroeë oggendure op Nuwejaarsdag in ’n koeëlreën voor Poppy’s Restaurant in Melville doodgeskiet is.

Sherwin Basdew het Maandag hierdie foto van hom en sy oorlede vrou, Samantha, op Facebook gedeel met ’n hartroerende boodskap oor hoe hy en sy gesin haar steeds mis. Foto: Facebook

Die skietery was omstreeks 01:00 toe iemand uit ’n swart BMW op die partytjiegangers losgebrand het.

Samantha en Liana Petersen is doodgeskiet en nog ses mense is gewond.

Basdew het Maandag ’n foto van hom en Samantha op Facebook geplaas. Hy skryf hoe hy haar steeds mis en dat tyd geen genesing gebring het nie. “Daar is steeds geen inhegtenisnemings nie. Steeds ’n gat in ons lewens. Rus in vrede, my geliefde.”

Basdew sê hy en sy twee jong kinders het steeds meer vrae as antwoorde.

“Ek het my vertroue in die polisie en die regstelsel verloor. Die polisie het ons nog glad nie gekontak nie,” sê Basdew.

Kapt. Mavela Masondo, ’n Gautengse polisiewoordvoerder, het Maandag by navraag gesê hulle is steeds besig om die voorval te ondersoek.

Masondo wou nie oor die besonderhede van die ondersoek uitwei nie en het gesê “die polisie vra ruimte om (die voorval) te ondersoek. Ons wil nie die ondersoek belemmer nie.”

Dit gaan oor geregtigheid vir die slagoffers en ook om die publiek se vertroue in die polisie te herstel.

Dit is dieselfde antwoord wat die polisie sedert die voorval aan die media gee.

Michael Sun, die DA se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid in Johannesburg, sê die party is teleurgesteld dat geen verdagtes nog vasgetrek is nie.

“Veral in ’n hoëprofielsaak soos dié sou ons juis dink dat die polisie ’n voorbeeld van die skieters wil maak om te wys dat die polisie nog hul werk doen en dat daar gevolge vir misdadigers is.

“Dit gaan oor geregtigheid vir die slagoffers en ook om die publiek se vertroue in die polisie te herstel.”

Intussen sê Dean Ebden-Hitzeroth, woordvoerder vir Poppy’s, die restaurant sukkel sedert die aanval om kop bo water te hou en die Covid-19-pandemie eis boonop sy tol.

“Dit was nie ’n maklike pad nie, maar ons fokus nou om (die restaurant) te herbou. Ons vat dit net dag vir dag.”

Hy het nie kommentaar op die polisie se ondersoek gelewer nie.

* Altesaam 11 mense is dieselfde oggend op ’n partytjie in Newtown, Johannesburg, gewond toe ’n skieter omstreeks 03:00 op hulle losgebrand het.

Dit is nog onseker of die voorvalle met mekaar verband hou.

Masondo het Maandag gesê dit “vorm deel van die ondersoek”.

Meer oor:  Melville  |  Skietery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.