Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Menlo Park-huis: Oom dink Mario is in ongeluk dood

“Jou broer se kind is dood. Hulle is drie wat dood is.”

Met dié woorde het die vrou van Michael Pretorius, ’n oom van Mario Pretorius (23), hom Sondagoggend wakker gemaak.

Mario is Saterdagoggend saam met twee kollegas dood in ’n huis in Menlo Park, Pretoria, aangetref.

Mario Pretorius (23) Foto: Verskaf

Die ander twee oorledenes was sy werkgewer, Theo Kleynhans, en Chariska Kloppers (30).

Volgens Pretorius het hy aanvanklik gedink dat Mario in ’n motorongeluk gesterf het. “Hy het nie lank gelede nie ’n nuwe kar gekry en ek het gedink dalk was dit ’n ongeluk.”

Hy het die familie gebel, maar niemand het antwoorde gehad oor wat gebeur het nie.

Pretorius sê hy het Sondag “omtrent al die polisiekantore in Pretoria gebel” om te probeer uitvind wat met Mario gebeur het, maar niemand kon hom help nie.

Hy het Mario as ’n besondere mens beskryf.

Hy het nie lank gelede nie ’n nuwe kar gekry en ek het gedink dalk was dit ’n ongeluk.

Mario se stiefpa, Colin Forbes, het Mike Bolhuis, ’n private ondersoeker van Pretoria, Saterdagoggend gebel en sy hulp gevra.

Bolhuis sê Mario was ’n “bestaande kliënt” van hom.

Kol. Nxolo Kweza, polisiewoordvoerder in Gauteng, het Donderdag gesê sy mag nie die uitslag van die lykskouingsverslae bekend maak nie omdat dit deel van die polisie se geregtelike doodsondersoeke is.

Kleynhans was die besturende direkteur van die eiendomsagentskap The Property Management Authority of South Africa, oftewel PropMan, in Faerie Glen, wat veral in deeltiteleiendom spesialiseer.

Hy het ook ’n fotografie-onderneming gehad en as Theo Klein foto’s geneem.

Theo Kleynhans (60) Foto: Verskaf

Kleynhans, Kloppers, Pretorius en nog ’n 32-jarige kollega, wat die voorval oorleef het en wie se naam op regsadvies weerhou word, het Vrydagmiddag ná werk by ’n kuierplek in die ooste van Pretoria gaan drankies drink. Nadat die res van die kollegas huis toe is, het dié vier na Kleynhans se huis gegaan.

Kloppers het glo ’n saamrygeleentheid by Pretorius gekry omdat hulle albei in Pretoria-Tuine in die weste van die stad woon.

Wat presies in die dubbelverdiepinghuis in Menlo Park gebeur het, bly ’n raaisel.

Bolhuis beweer dat daar op dwelms in die huis afgekom is.

Chariska Kloppers (30) Foto: Verskaf

Kweza weier egter om kommentaar hieroor te lewer.

Kloppers se man, Nollie, wat besig was om van haar te skei, sê “sy sou glad nie dwelms gebruik het nie”. Ook van haar vriende met wie Netwerk24 gepraat het, is dit eens dat sy nie dwelms sou gebruik het nie.

’n Werker van Kleynhans het Saterdagoggend op die lyke afgekom. Kloppers se lyk was buite op die stoep op ’n stoel. Die ander vrou het bewusteloos op die stoep se vloer gelê. Sy word steeds in die waakeenheid van ’n hospitaal in Centurion behandel.

Kleynhans se lyk is in die gang naby die trap gekry. Bloed en wat na braaksel lyk, was op die mat. Pretorius se lyk is ook in die gang gekry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.