SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Mense kan hul wapens verloor’

Die jongste vuurwapen-amnestietydperk wat vandag begin, is volgens kenners ’n strik waarin vuurwapeneienaars kan trap in die hoop om nuwe lisensies te kry.

Bheki Cele, minister van polisie.

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag aangekondig mense met onwettige vuurwapens of wapens waarvan die lisensies verstryk het, kan dit van 1 Desember tot 31 Mei 2020 by die polisie indien sonder om vervolg te word.

Volgens Cele se kennisgewing, wat in die Staatskoerant gepubliseer is, kan amnestie-aansoekers wat hul wapens indien, weer om ’n lisensie aansoek doen mits die aansoek binne 14 dae ingedien word.

Dis waar die eerste rooi lig flikker, sê Martin Hood, vuurwapenregskenner. Hy sê eienaars met verstrykte lisensies kan hul wapens verloor as hulle dit indien, want hulle weet nie noodwendig dat hulle ’n geldige bevoegdheidsertifikaat aan die polisie moet wys om vir die nuwe lisensie aansoek te doen nie. Dit kan tot vier of vyf maande neem om ’n bevoegdheidsertifikaat te kry as die vorige een verval het.

Hood sê ingeligte senior polisiebeamptes het vir hom gesê daar is geen beplanning, voorbereiding of opleiding in die polisiediens gedoen vir die amnestietydperk nie.

Volgens Cele se kennisgewing kan amnestie-aanvraers hul skriftelike amnestie-aansoeke inhandig by ’n toegewese amnestie-

Daar lê totale wanorde voor.

beampte by die meeste polisiekantore in die land. Die beampte moet dan ’n kwitansie uitreik.

Volgens Hood het die polisie nie die hulpbronne vir die ekstra werk wat die amnestieproses meebring nie. Daar is voorheen nie behoorlik rekenskap vir die vuurwapens gegee nie en dit kan weer gebeur. Moontlike diefstal uit polisiekantore is nie bekyk nie. Hy meen Cele kry swak regsadvies en kommunikeer nie met belangegroepe nie.

Paul Oxley van die organisasie Vuurwapeneienaars van Suid-Afrika (Gosa), meen daar lê totale wanorde voor, tensy ’n belangegroep die amnestie met ’n hofinterdik stuit. Hy sê Cele se kennisgewing is minstens in een opsig problematies. Dit lui dat amnestie-aanvraers slegs om ’n nuwe lisensie kan aansoek doen as hulle dokumentêre bewys van vorige eienaarskap van die vuurwapen kan lewer. “Dít is nie ’n vereiste in die wet nie.”

Oxley sê geeneen van die vuurwapens wat met die vorige amnestieprosesse (2005 en 2010) ingegee is, is met ’n misdaad verbind nie. Eienaars met verstrykte lisensies het hul vuurwapens ingedien, nié misdadigers nie, sê hy.

Boonop het Gosa ’n tussentydse interdik wat steeds geld, wat in Julie verlede jaar deur regter Bill Prinsloo in die hooggeregshof in Pretoria uitgereik is. Prinsloo het die polisie verbied om enige planne in te stel of vuurwapens te aanvaar net omdat die lisensie verval het. Die bevel het verhoed dat sowat 450 000 vuurwapeneienaars met verstrykte lisensies hul wapens en sowat 60 miljoen patrone moes ingee.

Met die tussentydse interdik om hom teen die polisie te beskerm, vra Gosa in ’n aparte hof­aansoek dat die lisensies langer geldig bly of dat die polisie ’n gedetailleerde plan verskaf oor die bewaring van die wapens. Die polisie wil appelleer teen die interdik, maar is nog nie deur die appèlhof verskoon dat hul appèlaansoek laat ingedien is nie. Wanneer ’n appèl wel aangehoor word, is die amnestie waarin mense hul wapens verloor het, lankal verby.

“ ’n Verstrykte lisensie maak nie ’n vuurwapen onwettig nie. Boonop maak die wet voorsiening vir laat aansoeke om lisensies te hernu, maar die polisie weier om die laat aansoeke te aanvaar.

“Die amnestie is ’n strik. As jy jou wapen ingee en jy het nie ’n bevoegdheidsertifikaat nie, gaan dit vier of vyf maande vat om die sertifikaat te kry. Dit terwyl jy net 14 dae tyd het om vir die lisensie aansoek te doen.”

Meer oor:  Bheki Cele  |  Wapenlisiensies  |  Vuurwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.