Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mense met ongelisensieerde wapens sál gestraf word

Vuurwapeneienaars wie se wapenlisensies verval het, sál in hegtenis geneem word as hulle nie die vuurwapens by die polisie inhandig nie.

Só het brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, Donderdag bevestig ná ’n uitspraak deur die konstitusionele hof in Johannesburg.

Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) dink egter nie die polisie het die vermoë óf bevoegdheid om 300 000 vuurwapens wat nou as onwettig bestempel word en ingehandig moet word, te hanteer, te stoor, óf te vernietig nie.

Die uitspraak kom ná ’n jarelange hofgeding tussen die SAJWV en die minister van polisie.

Volgens die konstitusionele hof is dit nie ’n fundamentele reg om ’n vuurwapen te besit nie, maar ’n voorreg wat deur die Suid-Afrikaanse Wet op die Beheer van Vuurwapens beheer word.

“Die polisie se onvermoë om die proses te bestuur, is geensins (deur die konstitusionele hof) aangeraak nie en die bedrog wat gepleeg word met die uitreik van vuurwapenlisensies is steeds net so groot soos dit was. Waar die hofsaak potensieel ’n hersiening van die wet kon afdwing, is die geleentheid nie gebruik nie,” het Fred Camphor, hoof van SAJWV gesê nadat die organisasie bloedneus in die hoogste hof gekry het.

Regter Johan Froneman het SAJWV in die uitspraak gelyk gegee dat die “probleme in die administrasie ’n legitieme bekommernis” is.

Die polisie reken egter hulle berei al jare hiervoor voor en die publiek hoef hul nie te bekommer oor hul bestuursvermoë nie.

Daar is ook geen manier om die wapen later terug te kry as dit ingehandig is nie.

Wat stoorplek en die beskerming van die wapens op polisiepersele betref, sê Naidoo elke stasiebevelvoerder neem verantwoordelikheid vir die eiendom op sy perseel.

Sou wapeneienaars nie hul wapens inhandig nie “en ons kry ’n onwettige vuurwapen by jou, sal jy vervolg word”, het Naidoo oor en oor gesê.

Dit kan tot 15 jaar tronkstraf beteken.

Daar is ook geen manier om die wapen later terug te kry as dit ingehandig is nie.

Volgens Froneman kan die blote verval van ’n lisensie nie tot outomatiese kriminalisering van die besit van daardie wapen lei nie, omdat dit ongrondwetlik sou wees.

Wanneer mense voortaan wapens inhandig, sou hulle om vergoeding kon aansoek doen, maar die regulasies maak voorsiening vir “belaglike bedrae” soos R500 vir ’n art. 13-wapen (selfverdediging) en R1 000 vir ’n jaggeweer, sê Camphor.

Die hele hofgeding volg nadat die huidige wet in 2006 die “ou” Wet op Wapens en Ammunisie (1969) vervang het.

Derduisende wapeneienaars wat ingevolge die vorige wetgewing hul lisensies bekom het, moes met die inwerkingtreding van die nuwe wet aansoek doen om hul lisensies te hernu.

Die aansoek om hernuwing moet plaasvind binne 90 dae voordat ’n lisensie verval.

Die konstitusionele hof moes ’n uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria van 2017 evalueer.

Mense moenie wag op amnestie nie, hulle gaan hulself benadeel, want ons gaan hulle vervolg.

Dié hof het die SAJWV gelyk gegee dat dele in die nuwe wet irrasioneel en vaag is, en wapeneienaars se grondwetlike regte op gelykheid en die beskerming van eiendom (in dié geval hul vuurwapens) skend. Die hof het ook bevind die nuwe wet stel nie duidelik wat ’n wapeneienaar te doen staan as hy die sperdatum van 90 dae misloop, of hoe om dan van sy wapen ontslae te raak nie.

Die konstitusionele hof het egter teen die hooggeregshof se uitspraak beslis.

Camphor sê die SAJWV maak nou staat op sprake van amnestie.

Naidoo ontken dat enige amnestie oorweeg word. “Mense moenie wag op amnestie nie, hulle gaan hulself benadeel, want ons gaan hulle vervolg,” sê hy.

Hy moedig vuurwapeneienaars aan om die wapens in te bring – “dit sal onredelik van ons wees om jou dan te vervolg”.

Volgens Camphor het wapenhandelaars oor die jare reeds van 300 tot sowat 80 verminder.

Adèle Kirsten, direkteur van Gun Free SA, een van die vriende van die hof, het die konstitusionele hof se uitspraak as ’n hoeksteen van die Wapenwet bestempel, “in ’n konteks . . . waar kinders doodgeskiet word tydens selfverdediging”.

Meer oor:  Wapens  |  Vuurwapeneienaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.