Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mense van Gatvol is keelvol, honger
Leonard Papers (53) sit mismoedig in sy rolstoel in die modder nadat riool die erf in Heidedal oorstroom het. Sy familie wil weet wat gaan van gestremdes soos hy word as almal werkloos is en honger ly. Foto: Mlungisi Louw

Ná ’n week van inperking is die nood hoog in Heidedal, Bloemfontein. Die mense honger. Moedeloos. Kos is skaars en bedel bring nie iets te ete tafel toe nie.

Toe sy op 28 Desember 80 geword het, het Annette Douw van Heidedal nie kon dink die “eindtye” is naby nie. Vandag is sy vasgevang in haar huisie met haar mense omring deur riool, armoede en mislikheid. Maar hulle het darem kos. Foto: Mlungisi Louw

Leroy Wymers (32) is vaal van die honger waar hy en ’n paar werkloses op die hoek van Dr. Belcher- en Heatherdaleweg rondhang.

“Ons sal moet gaan spinasie pluk in die veld om te eet. Ons sal van bossies moet leef.”

Die groep wil “gaan zama-zama”, kyk wat hulle kry om te eet, al is dit onwettig om rond te loop.

Solomon Oliphant (75) het Saterdag sy fiets gevat om te gaan kos soek. Hy het met 'n dosyn eiers en 'n brood teruggekeer vir die vyf mense in hul huis in Heidedal. Foto: Mlungisi Louw

Om hulle is ’n paar erwe oorstroom deur riool. Kinders bou speelhuise in die modder. Honde aas tussen vullis na iets.

Annette Douw (80) se huisie is ’n eilandjie van hoop in die riool.

Sy sê toe sy op 28 Desember verjaar het, het sy nie kon dink die eindtye met die virus is naby nie.

“Toe’t ek nog niks geweet’ie.”

Baie mense in veral informele woongebiede kry swaar tydens die inperking. Die Cheeatah-vleuel Craig Barry is deel van die hulpverleningsorganisasie Be the Difference Foundation wat kospakkies aan mense in informele woongebiede om Bloemfontein uitdeel. Hier is hy by David Mokesha, ’n taxisbestuurder wat nou geen inkomste het nie, en Mitah Moiloa en hul baba, Karabo. Hulle het vyf kinders en woon in ’n sinkhuis. Voor is hul kinders Malefu en Mpho. Foto: Mlungisi Louw

In die voorkamer by die vrieskas hang ’n afdruk van die “Laaste Avondmaal”, Jesus en sy dissipels wat saam eet.

Hulle het nog kos. Darem. Maar die mislikheid begin by die voordeur.

Die gestremde Leonard Papers (53) word deur die rioolslyk in sy rolstoel gestoot.

Hy kan nie praat nie. Familie versorg hom, maar het skaars genoeg vir hulself.

Die Covid-19-virus is die laaste ding waaroor die mense van die informele woongebiede buite Bloemfontein waarskynlik bekommerd is. Hier is dienste skaars, en siektes en honger aan die orde van die dag. In ’n plakkerskamp suid van die stad stoot Johannes Mona ’n kruiwavrag om dit aan die rand van die see van sinkhuise te stort. Foto: Mlungisi Louw

“Wie sal nou na mense soos hy kyk?” vra Meidjie Papers, sy niggie.

“Ons het selwers nie kos nie. My baba het HIV, sy kan nie enige kos eet nie.”

“Ek is ook HIV, my kind ook,” sê ’n vrou langs haar.

Drie kinders speel in die rioolvuil buite 'n huis in Heidedal. Daar word gevrees dat die mense in informele en arm gemeenskappe so afgetakel kan wees deur gewone siektes wat ook aangehelp word deur ’n gebrek aan dienste dat hulle baie vatbaar vir die Covid-19-virus kan wees. Foto: Mlungisi Louw

Natalie Meyer is die enkelma van vyf kinders. Sy woon in die Gatvol-plakkerskamp en het oorgeloop vir iets te ete. Raad, hulp. Hoop.

Alles is skaars.

“Ek lewe van wasgoed was vir mense en social grant. Maar dit is net tydelik, ek het ’n velsiekte. My kinders kry honger. Maar as jy rondloop vir kos, slaan die polisie jou. Die moeilikheid is hier is nie werk nie, ons lewe van die hand na die mond.”

Sy en haar baba is op teenvigsmiddels en soms moet sy haar kos aan die baba afstaan.

In Gatvol staan ’n paar ouens onder die bordjie wat wys dis die hoek van Mars- en De Vries-strate. Hulle wag, waarvoor weet hulle nie.

“Ons voel dit, ons voel dit hier in Die Gat in,” sê Quinton Maasdorp. Die honger is ’n wolf wat snags tussen die sinkhuise grom.

“Dis erg, mister. Erg.”

Reuben Dempies, ’n meubelmaker, sê dit “gaan op-en-af” met kos met dié dat hy nie geld verdien in die tyd van inperking nie.

Sy seuntjie, Rasta (18 maande) vat gretig ’n geelperske in sy handjies en lê weg daaraan.

Die Cheetahs-vleuel Craig Barry het Saterdag as deel van die Be the Difference Foundation kospakkies in die Caleb Motshabi- informele woongebied buite Bloemfontein uitgedeel. Hier oorhandig hy 'n kospakkie aan Lebogang Moseau. Foto: Mlungisi Louw

Willie de Wee, ’n elektrisiën, sê hulle “sit in ’n probleem in – ons weet nie waar dit alles gaan eindig nie.”

Hy trek sy skouers op. Donker wolke steek op bo Gatvol. Die koue is hier.

Die inwoners vrees as die virus eers posvat, kan baie mense doodgaan.

“Dis die virus wat ons eintlik uit die werk uit hou. Was dit nie vir die virus nie kan ons teruggaan werk toe, dan kry ons weer ’n paar rand in.”

Maar voor die virus, is daar die honger in Gatvol.

“Ons gaan vrek van die hongerte. Daar gaan niks aan nie. Tot die groot fabrieke gaan naderhand stop om te werk. Kos kan nie inkom nie.”

*Craig Barry, vleuel van die Vrystaat Cheetahs, het as deel van die Be the Difference Foundation kospakkies in die Caleb Motshabi- informele nedersetting suid van Bloemfontein uitgedeel. Hulle gee genoeg kos om ’n gesin ’n week te hou. Hoe meer skenkings inkom, hoe meer gesinne kan hulle bedien, sê hy.

* Mense kan meer oor die stigting hier lees.

Meer oor:  Heidedal  |  Bloemfontein  |  Honger  |  Covid  |  Nood  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.