Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Mense wag van vroegoggend om te kan drank koop

Die lang toue mense wat verlede week voor supermarkte en apteke gesien is, het Maandagoggend geskuif na die drankwinkels in die Nelson Mandelabaai-metro.

’n Groot klomp mense staan Maandagoggend voor die Ultra Liquors-drankwinkel in Newtonpark, Port Elizabeth, en wag om weer drank te kan koop. Foto: Lulama Zenzile

Daar was vroegoggend net enkele klante in supermarkte, terwyl drankwinkels, wat Maandagoggend ná twee maande heropen het, ’n toestroming van mense ervaar het.

Groot kettingwinkels het veral aftrek gekry, met klante wat al voor sonsopkoms by die drankwinkels uitgekamp het.

By Ultra Liquors in Newtonpark, Port Elizabeth, het honderde klante voor 06:00 al saamgedrom. Die tou mense was sowat 40 m lank en hulle het tot voor die ingang van die Checkers-winkel gestaan.

Terwyl klante gewag het op hul beurt om by Ultra Liquors in te gaan, het sommige hul drankwenslysies op hul selfone nagegaan.

“Ons is verontrief deurdat ons nie alkohol kon koop op vlak 5 en vlak 4 van die inperking nie. Ons is verantwoordelike volwassenes, so ek dink nie ’n verbod op alkohol was regtig nodig nie,” het ’n man voor die drankwinkel gesê.

Van die voertuie het gekreun onder die gewig van al die drank voor die Ultra Liquors-drankwinkel in Newtonpark, Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile
’n Groep jong mense spog met hul aankope voor die Prestons-drankwinkel in Walmer, Port Elizabeth, terwyl van hulle so lank begin proe aan hul voorraad. Foto: Lulama Zenzile

By die Prestons-drankwinkel in Linton Grange het sowat 50 mense in ’n tou gestaan teen oopmaaktyd.

Sommige klante het hul kampstoele saamgebring om gerieflik te sit en wag vir die winkel se deure om oop te gaan.

Teen 10:00 het die lang tou mense gestrek van die ingang, reg in die stegie langs die winkel af tot agter reg om die winkel.

“Ek het met die aanvanklike inperking in Maart genoeg voorraad aangekoop vir twee weke, maar toe word die inperking verleng. Ek wil vandag genoeg koop net vir ingeval die metro terugskuif na vlak 4 en ek dan nie alkohol sal kan koop nie,” het een van die klante op sy kampstoel in die tou gesê.

Eienaars van die winkels was gereed vir die groot toestroming.

By die Retief-drankwinkel op Despatch het die eienaars, Marilyn Bowles en Johnny Fourie, hul klante wat teen oopmaaktyd buite die deur gewag het, so gou as moontlik en met die nodige higiëniese voorsorgmaatreëls probeer help.

Teen laatoggend was die ry buite die drankwinkel korter, maar daar was ’n bestendige vloei van mense na die winkel.

Bowles sê bier was die topverkoper vir die oggend.

Mense wag Maandagmiddag geduldig in ’n tou voor die Big Daddy’s-drankwinkel in Walmer, Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

Hulle verwag om Dinsdag weer ’n toestroming van mense te sien. Fourie het reeds Maandag nog voorraad in Port Elizabeth gaan koop.

In die aangrensende Kouga-munisipaliteit het twee sakemanne Maandag saamgespan om drankaflewerings in Jeffreysbaai en die omliggende gebiede te doen.

Derek Koekemoer, eienaar van The Long Room-kroeg in Jeffreysbaai, sê omdat sy kroeg nog nie op vlak 3 kan open nie, lewer hy tans drank af vir Albert Zietsman, eienaar van die Hap & Tap-drankwinkel.

Koekemoer kry sy voorraad by Zietsman en lewer so wyd as Humansdorp tot by Gamtoos af.

“Ons is vandag (Maandag) tjok en blok vir bestellings, en amper vol vir Dinsdag.

“Die mense se reaksie op die afleweringsdiens is ongelooflik.”

Die meeste bestellings behels ’n paar bottels Richelieu-brandewyn, terwyl bier ook groot in aanvraag is, sê Koekemoer.

Ches Jacobs (links) en Nathan Gunn (regs) laai Maandagoggend nog voorraad af by die Shoprite-drankwinkel in Despatch in die Nelson Mandelabaai-metro. Foto: Cara-Lee Dorfling

“Die 10%-afleweringsfooi het niemand afgeskrik nie en ek glo ons diens is die beter opsie, want hier in Jeffreys(baai) staan die mense in lang toue voor die drankwinkels en wag.”

Teen Maandagmiddag het Mgwebi Msiya, woordvoerder van die Oos-Kaapse Drankraad, gesê hulle het tot dusver nog net berigte van lang toue mense voor drankwinkels ontvang en geen ernstige klagtes nie.

Hy verwag wel om teen die einde van die werksdag klagtes te kry.

Die raad het vooraf ’n veldtog gehad om eienaars van drankwinkels in te lig oor die nodige Covid-19-veiligheidsregulasies wat nagevolg moet word en hulle sal plek-plek inspeksie doen om die nakoming hiervan te verseker.

Msiya sê dié raad het egter net 14 inspekteurs in die provinsie, terwyl daar sowat 7 000 drankwinkels in die Oos-Kaap is. Hulle maak dus staat op die publiek om hul oë en ore te wees.

Enige oortredings of wangedrag ten opsigte van drankverkope kan by die Oos-Kaapse Drankraad aangemeld word deur die tolvrye nommer 0800 000 420 te skakel, of ’n boodskap op WhatsApp te stuur aan 076 403 6223.

Meer oor:  Port-Elizabeth  |  Drankverkope  |  Bier  |  Winkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.