Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
WAARSKUWING: FOTO KAN SENSITIEWE MENSE ONTSTEL
Menslike oorskot op toneel van treinramp gevind

Die oorskot van twee mense wat in Januarie se treinramp dood is, is Maandag by Genèva tussen Hennenman en Kroonstad ontdek.

JP van der Gryp, ’n werknemer van ’n vervoermaatskappy, sê hy en nog werkers het Maandagmiddag die laaste staal op die ramptoneel opgelaai om na ’n skrootwerf te vervoer.

“Ons het rondgeloop en al die kleiner stukkies yster op die toneel bymekaargemaak toe ons op twee stukke kopbeen, ’n kakebeen, kleiner beentjies en heelwat tande afgekom het,” sê Van der Gryp.

Hy sê die stukke kopbeen lyk soos dié van ’n volwassene en ’n kind.

JP van der Gryp op die toneel waar hy Maandag op menslike oorskot afgekom het, wat vermoedelik van slagoffers van die Genèva-treinramp in Januarie vanjaar is. Foto: Alet van der Walt

Die treinwaens van die Shosholoza Meyl is reeds in Januarie met groot masjinerie ’n ent weg van die treinspoor en ongelukstoneel verskuif. Werkers het hierna die staal met gasvlamme opgesny.

Van der Gryp sê hy onthou van die mense wat op die toneel gewerk het, het gekla dat daar ’n onaangename reuk is.

“Ons het maar gedink dit is van die sojabone wat weens die reën begin vrot het,” sê Van der Gryp.

Die trein het op 4 Januarie vanjaar met ’n vragmotor met ’n vrag van 34 ton sojabone gebots. Die vragmotorbestuurder kon nie vinnig genoeg oor die spooroorgang ry nie en die trein se lokomotief het teen die agterste wa van die vragmotor gebots en dit meegesleur.

Die lokomotief, ’n goederewa met voertuie en die voorste passasierswaens het ontspoor.

Die stukkies kopbeen, ’n gedeelte van ’n kakebeen en tande wat Maandag naby die ramptoneel gevind is.Foto: Verskaf

Die trein was uit Port Elizabeth na Johannesburg op pad en die meeste van die oorledenes het by Virginia op die trein geklim en was in die voorste waens.

Van dié waens het aan die brand geslaan en 21 mense se verkoolde oorskot is kort ná die ramp in die waens opgespoor.

Dié mense se oorskot kon danksy DNS-toetse positief met hul families verbind word.

Twee mense is egter steeds vermis en daar word nou geglo dit is moontlik hul oorskot wat Maandag gevind is.

Kol. Thandi Mbambo, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie se forensiese eenheid Maandag die oorskot op die ramptoneel versamel het.

DNS-toetse sal nou gedoen word om te bepaal of dit afkomstig is van die mense wat reeds dood verklaar is en of dit twee ander slagoffers se oorskot is, sê Mbambo.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.