Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Metrobeampte geopereer ná skote in hinderlaag

’n Metropolisiebeampte (44) wat Maandag in die vroeë oggendure saam met ’n kollega naby die Borcherds Quarry-wisselaar op die N2 in Kaapstad aangeval en geskiet is, is Dinsdag geopereer.

Die toneel waar twee metropolisiebeamptes Maandag in die vroeë oggendure in ’n hinderlaag aangeval, geskiet en beroof is. ’n Motoris wat hulle wou gaan help, is ook geskiet. Foto: Verskaf

Die beampte is Maandag eers gestabiliseer en voorberei vir die operasie Dinsdag. Hy is Dinsdag kort ná 14:00 uit die operasieteater gestoot, sê Richard Bosman, uitvoerende direkteur van veiligheid en sekerheid in die Kaapstadse metro.

Hy is twee keer raak geskiet in die aanval op hom en sy kollega, ’n vroulike metropolisiebeampte (44). Sy is ook gewond, maar is reeds Maandag uit die hospitaal ontslaan.

Die manlike beampte is in die regterbeen en lies gewond. Die koeël is deur sy been. Hy is van agter geskiet. Die tweede koeël is deur sy lies en het sy bekkenbeen skrams getref.

“Hy is geopereer om die skade te herstel.”

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, het Maandag gesê die twee beamptes is in ’n hinderlaag gelei. “Op kringtelevisie kan duidelik gesien word hoe mense klippe in die pad pak. Die twee beamptes wou die klippe verwyder. Intussen het ’n ander voertuig oor die klippe gery en van die pad afgetrek.”

Smith sê daar kan gesien word hoe ’n tweede voertuig die een wat oor die klippe gery het, nader. “Dit lyk asof die insittendes van die tweede voertuig die mense in die eerste voertuig wil help.

“Toe ons beamptes by die twee voertuie stilhou, het ’n insittende van die tweede voertuig op hulle begin skiet.”

Die motoris in die eerste voertuig is ook gewond.

Dié foto is op Twitter gedeel kort nadat twee metropolisiebeamptes by die Borcherds-Quarry-wisselaar geskiet is. Foto: Twitter

“Ons beamptes sal van nou af elke situasie as ’n moontlike hinderlaag moet benader. Dit kan dienslewering raak, maar ons kan nie dat beamptes se lewe in gevaar gestel word nie.”

Die aanvallers het met een van die beamptes se vuurwapen, ’n tweerigtingradio en persoonlike besittings gevlug.

’n Beloning van R50 000 word aangebied vir inligting wat tot die aanvallers se inhegtenisneming kan lei.

Metropolisiebeamptes op die toneel waar twee van hul kollegas Maandag in die vroeë oggendure aangeval is. Foto: Verskaf
Die motor van die twee metropolisiebeamptes wat Maandagoggend aangeval is. Foto: Verskaf

Meer oor:  Jp Smith  |  Richard Bosman  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.