Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Metropolisie begeer haar ryding, sê vrou

’n Vrou van Centurion wil haar nuwe Jeep Ranger verkoop omdat sy meen die metropolisie teister haar daaroor.

Monique Karsten by haar Jeep Wrangler Sahara. Foto: Elizabeth Sejake

Sy is al twee keer afgetrek en ondervra en boonop is haar kruideniersware uit die motor gesteel.

“Ek en my man het ons (tweedehandse) Jeep Wrangler Sahara net voor die begin van die inperkingstydperk gekoop vir ons plesier, maar ons het nog nooit enige plesier daaruit gekry nie,” sê Monique Karsten (25).

“Ek is al twee keer deur Tshwane se metropolisie afgetrek. Dit lyk asof my Jeep die metropolisie soos ’n magneet aantrek.

“Ek is nou te bang om met die Jeep te ry en het besluit om dit eerder te verkoop en ’n voertuig aan te skaf wat geensins uitstaan nie.”

Karsten sê ’n metropolisieman het haar twee weke gelede in ’n metropolisievoertuig van die pad af gedruk en haar gedwing om te stop nadat sy en ’n vriendin inkopies gedoen het.

‘ ’n Derde persoon het halflyf ingeklim.’

“Hy was baie aggressief en het my gevra vir my bestuurslisensie. Hy het ook gesê dat hy die Jeep wil hê en gedreig dat hy die motor gaan vat.

“My vriendin het hardegat geraak en vir hom gesê dat sy reeds haar man gebel het. Hy het ons toe beveel om te ry.”

Karsten sê sy was Maandag alleen in haar motor toe ses mans wat opmekaar in ’n metropolisiebakkie gesit het, haar helderoordag van die pad af getrek het.

“Vier van die mans het uit die motor gespring en my voertuig omring. Hulle was gewapen en het almal metropolisie-uniforms aangehad.”

Sy sê die mans het haar geïntimideer met hul vrae.

“Die een ou wou by my weet waarheen ek hierdie tyd van die dag op pad is. Hy het toe daarop aangedring dat ek ’n permit moet hê om rond te ry.

“Hy het daarna vir my gesê dat hier ’n situasie is en dat ek nie by die wet hou nie. Hy het my toe daarvan beskuldig dat ek die rooi verkeerslig verontagsaam het.”

Sy sê ’n ander man in uniform het vir haar gesê sy moet haar masker verwyder sodat hy kan hoor wat sy sê. “Ek het sy opdrag uitgevoer en hy het my toe daarvan beskuldig dat ek die Covid-19-regulasies oortree deur nie ’n masker te dra nie.”

Sy sê die mans het daarop aangedring dat sy die motor se deure oopsluit.

“Daar was ’n derde persoon wat halflyf in die motor geklim het. Hy het vreeslik baie vrae oor die motor gevra en het aanhoudend die motor se knoppies gedruk. Hy het vir my gesê my man moet ryk wees om vir my so ’n voertuig te koop.

“Die mans het daarop aangedring dat hulle my gaan toesluit en my Jeep gaan vat. Hulle het gesê dat ek nie weer my motor gaan terugkry nie.”

Hulle wou toe by haar weet wat sy gaan doen om uit die situasie te kom, sê Karsten.

“Ek het vir hulle gesê ek is nie seker wat hulle bedoel nie. Hulle het gesê ek het drie minute om iets te doen.”

Karsten sê die mans het eers voorgestel dat sy geld na ’n eWallet stuur, maar het daarna gesê sy moet hulle agtervolg en geld by ’n kitsbank gaan trek.

“Hulle het my op pad na die ATM beveel om in die middel van die pad te stop en ’n paar honderd meter na die ATM toe te stap. Ek was paniekbevange en kon nie my bankkaart kry nie. Hulle het my daarna beveel om te ry.”

Volgens Karsten is sy reguit huis toe en toe sy haar motor se kattebak oopmaak, het sy besef al haar kruideniersware is gesteel.

“Dit was vir my ’n aaklige ervaring en ek wil nooit weer só iets beleef nie. Ek weier nou om met die kar te ry. Ek het daarom besluit om van die Jeep ontslae te raak, al moet ek dit teen ’n verlies verkoop.”

Karsten het ’n saak van intimidasie en diefstal by die Erasmia-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Sy sê sy kon nie vir die polisie sê wat die metropolisievoertuig se registrasienommer is nie omdat dit nie ’n nommerplaat opgehad het nie.

Meer oor:  Metropolisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.