Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Meyer-boek gróót op TV

Die Britse akteur Ed Stoppard vertolk een van die hoofrolle in ’n peperduur TV-reeks gebaseer op Deon Meyer se 2010-treffer Spoor, wat in 2011 in Engels gepubliseer is as Track­ers.

Deon Meyer. Sy TV-reeks Trackers word ’n groot produksie. Foto: Mlungisi Louw

Dit is ’n speurverhaal wat om renosterstropery, georganiseerde misdaad en ’n terreurkomplot in Kaapstad wentel.

Stoppard is bekend vir sy spel in onder meer The Pianist (2002) en Assassin’s Creed IV: Black Flag (2013), en is die seun van Tom Stoppard, die bekroonde Tsjeggies gebore Britse dramaturg en draaiboekskrywer.

Die TV-reeks Trackers, met ’n begroting wat volgens bronne meer as R80 miljoen kan beloop, sal uit ses episodes bestaan en kan die grootste Suid-Afrikaanse TV-produksie tot nog toe word.

En ’n tweede reeks is dalk op pad.

Stoppard vertolk die rol van Lukas Becker, ’n geheimsinnige CIA-agent wat romanties betrokke raak by Milla Strachan (Rolanda Marais).

Die Britse akteur Ed Stoppard gaan Lukas Becker vertolk. Foto: Getty Images

Verfilming van die reeks het in Februarie begin en het die afgelope week nog voortgeduur in Kaapstad, maar tonele is oor die hele land geskiet, sê Meyer uit Parys, Frankryk, waar hy op ’n werksvakansie is saam met sy vrou, Marianne.

Die laaste dele behoort later vandeesmaand geskiet te word en Trackers sal na raming in Oktober reeds op die kassie te wees.

“Ek is geweldig trots op wat ons besig is om te maak. Ons wil ’n Suid-Afrikaanse storie vertel, maar met die nodige kwaliteit dat dit ’n internasionale gehoor tevrede sal stel. Met dit wat ek tot dusver gesien het, dink ek ons slaag daarin,” sê Meyer.

Trackers is ’n gesamentlike produksie van M-Net, die Duitse openbare uitsaaier ZDF en Cinemax, ’n susternetwerk van die reuse- Amerikaanse produksiehuis HBO.

“Dit was ’n groot uitdaging om die storie reg te kry vir TV en terselfdertyd lojale aanhangers van die boek gelukkig te hou, maar ek dink die gees van die boek is daar,” sê Meyer.

Die maak van TV op dié skaal het sy uitdagings.

“Dis maar ’n leerkurwe. Ek gaan nie vir jou jok nie, ons het ’n klein bietjie geboortepyne ervaar, soos enige produksie van skaal maar doen, maar alles is nou op skedule en binne begroting.”

Hy beskou Trackers as ’n fantastiese geleentheid om die Suid-Afrikaanse landskap te bemark.

“Die regisseur, Jyri Kähönen, het sy hart verloor op die landskap en dit wys,” sê Meyer.

“Dis maar ’n risiko om iemand van die buiteland af in te bring vir die regie. ’n Mens is bang hy kyk die plaaslike nuanses mis, maar Jyri het hom uitstekend van sy taak gekwyt.”

Meyer praat egter reeds van ’n moontlike tweede seisoen wat dalk ’n Suid-Afrikaner as regisseur kan inspan. “Ons het beslis genoeg mense met die nodige talent.”

Oor sy sukses sê hy: “Ek het nooit hiervan gedroom nie. Mens droom nie sulke onwerklike dinge nie. Jy droom mos net van dinge binne jou verwysingsraamwerk wat kan waar word.”

“Selfs skryf was nie iets waaraan ek gedink het nie. Ek was ’n leser, nie ’n skrywer nie. Ek het eers in my middel dertigs ernstig begin skryf.”

Sy eerste skryfwerk was vir TV.

“Daar was so ’n storie, Ontbyt TV. Ek het ’n draaiboek vir hulle geskryf. Die reaksie was so goed dat ek tentatief begin kortverhale skryf het. Huisgenoot het een gepubliseer en ander publikasies het gevolg. Soos wat mens gepubliseer word, groei jou selfvertroue en word jou stem sterker,” sê Meyer.

Slegs 800 eksemplare van sy eerste boek, Wie met vuur speel, het 25 jaar gelede verkoop. Meyer lag nou daaroor.

“Daar was nie toe so iets soos misdaadfiksie in Afrikaans nie en in 1994 het ons in ’n veranderende land gewoon, so ek dink nie die uitgewer het mooi geweet wat om met my boek te doen nie. Die boek het darem in ander tale beter verkoop as in Afrikaans.”

Meer oor:  Deon Meyer  |  Tv-Reeks  |  Trackers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.