Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mienke (3) het mense in SA se harte aangegryp
Mienke Mulder, wat in 2017 by ’n dagmoeder in Mbombela aan ’n bottel melk verstik het, is Woensdagoggend dood.Foto: Argief

In Mienke Mulder (3) se kort leeftyd het sy ’n groot impak op menselewens gehad en Suid-Afrikaners se harte aangegryp.

Dié vegtertjie, wat in 2017 by ’n dagmoeder in Mbombela in Mpumalanga aan ’n bottel melk verstik het, is Woensdagoggend dood.

Sy het destyds erge breinskade opgedoen. Serebrale verlamming is by haar gediagnoseer en sy kon nie loop, sit of self eet nie.

Karin Harmse, stigter van Arms of Mercy van Bloubergstrand, sê sy is “platgeslaan” oor Mienke se dood.

Die bruinoog-meisietjie se ma, Verna, het in ’n WhatsApp-boodskap die tragiese nuus met haar gedeel.

As dit nie vir Mienke was nie, het Arms of Mercy nie bestaan nie.
Mienke Mulder saam met haar ma, Verna.Foto: Argief
Ryno en Verna Mulder saam met hul jongste dogter, Mienke, by die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Johannesburg. Sy is ná drie maande uit die hospitaal ontslaan nadat sy aan ’n bottel melk by ’n dagmoeder in Mbombela verstik het Foto: Argief

Mienke was die inspirasie agter die stigting van Arms of Mercy, ’n niewinsgewinde organisasie wat siek kinders in nood help om die nodige mediese sorg te kry.

Die organisasie samel geld in vir kinders met onder meer kanker, seldsame siektes en spesiale behoeftes deur unieke handgemaakte armbandjies en ander bykomstighede te verkoop en verskillende geldinsamelings en geleenthede te hou. Hulle maak ook staat op borgskappe en skenkings.

“As dit nie vir Mienke was nie, het Arms of Mercy nie bestaan nie. Deur Mienke is ek geroep om te dien,” sê Harmse.

“Ek het ’n baie noue band met haar gehad, asook met haar ouers. Hulle was die perfekte ouers en het haar soos ’n normale kind behandel. Hulle is ’n wonderlike familie.”

Sy sê Mienke is tuis in hul huis in Benoni aan die Oos-Rand dood.

Hoewel Mienke oor die jare verskeie kere verbetering getoon het, het sy ook ’n aantal terugslae gehad.

Bruinoog Mienke pop, jy sal altyd in my hart wees.
Mienke Mulder het ernstige breinskade opgedoen nadat sy in 2017 aan ’n bottel melk verstik het. Serebrale verlamming is by haar gediagnoseer en sy kon nie loop, sit of self eet nie.Foto: Argief
Mienke Mulder het die hele land se harte aangegryp met haar inspirerende verhaal. Foto: Argief
Mienke Mulder toe sy in ’n stadium in die hospitaal was.Foto: Argief

Volgens Harmse was sy nog onlangs siek, maar sy het beter geword.

Nader besonderhede oor haar dood is nog nie bekend nie.

Intussen het huldeblyke op Mienke se Facebook-ondersteuningsgroep, Please pray for Mienke, ingestroom

Die Facebook-groep is kort ná haar ongeluk geskep en het meer as 58 000 ondersteuners.

“Ek sal jou nooit ooit vergeet nie. Jy was vir my ’n ligpunt in my lewe. Ek het jou (storie) gevolg van dag een af wat jy met die helikopter Johannesburg toe is,” skryf Adri de Meyer.

Amelia Steyn skryf: “Ag nee, die trane rol sonder ophou. Bruinoog Mienke pop, jy sal altyd in my hart wees. Jesus het sy mooiste blommetjie gepluk vandag.”

Die sangeres Demi Lee Moore het ook hulde gebring: “My hart is baie seer! Dankie vir die voorreg dat ek musiek kan maak wat met jou kon praat! Ek kyk nou weer na al die video’s waar jy so lekker sing.”

Verna en Mienke se pa, Ryno, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Mienke Mulder  |  Mbombela  |  Mpumalanga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.