Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Mienke kan nou loop en swiets eet’

Woensdagaand, ure ná haar dood, het Mienke Mulder (3) se jongste sussie haar in die sterre gesien.

Mienke Mulder (3) se ouers en sussies se harte is stukkend nadat hul engelsussie Woensdag dood is. Hier is Mienke in haar ma, Verna, se arms (heel links), ousus Leané (7), pa Ryno en Zamoné (4).

“Dit was donker en ons was buite. Zamoné het na die sterre gekyk en geskree, kyk daar is Mienke. Sy kyk vir ons,” sê Verna Mulder.

Dan begin sy snik.

Verna (29), Ryno (33), Leané (7) en Zamoné (4) se harte is stukkend nadat hul jongste kind en engelsussie Woensdag in haar slaap dood is.

Mienke is op 31 Januarie 2017 as ’n perfekte donkerkop-babatjie gebore. Maar op 25 Augustus, toe sy amper sewe maande oud was, het sy aan ’n bottel melk gestik by haar dagsorgsentrum in Mbombela waar haar ouers toe gewoon het. Sy het ernstige breinskade opgedoen en was ook serebraal verlam.

‘Sy was die laaste tyd so gesond.’

Omdat sy so baie sorg en terapie nodig gehad het, het haar ouers na Benoni aan die Gautengse Oos-Rand getrek, waar hulle steeds bly. Albei werk vir PG Glass – Verna by die hoofkantoor en Ryno is streeksbestuurder vir die Laeveld.

Die laaste paar jaar was daar baie oppe en affe wat Mienke se gesondheid betref.

“Omdat sy basies geen immuunstelsel gehad het nie, het sy baie siek geword by die skool. En dan sou sy weer vir lank gesond wees en skielik weer siek raak. Aan die begin van die lockdown het ek gedink dit gaan baie sleg vir haar en haar sussies wees om nie skool toe te gaan nie, maar nou besef ons dit was ’n seën. Ek en Ryno het van die huis af gewerk en ons het soveel tyd saam deurgebring as gesin en foto’s geneem en goeie herinneringe gebou,” sê Verna.

Die amper ses maande wat hulle saam by die huis was, was Mienke baie gesond en gelukkig. Tot Woensdag.

Die laaste foto’s wat van Mienke saam met haar gesin geneem is op ’n uitstappie op Sondag 13 September. “Sy was gesond en gelukkig. Haar dood is ’n reuseskok vir ons,” sê Verna Mulder, haar ma.

Soos gewoonlik het hulle opgestaan en Ryno het vir Mienke in haar kamer gaan haal sodat Verna vir haar kan bottel gee. Die volgende oomblik het hy in die badkamer ingekom en gesê Mienke is dood. Ek het gesê nee, ek kan dit nie glo nie en het na haar kamer toe gehardloop. En toe het ek onmiddellik op haar gesiggie gesien sy is nie meer met ons nie,” vertel Verna hartseer.

“Sy het in presies dieselfde posisie gelê as toe ek haar Dinsdagaand neergelê het. Dis vir ons ’n troos, want dit wys sy was peaceful.

Leané en Zamoné was histeries. Ryno het met die dogtertjies gaan sit en vir hulle gesê Mienke is nou by Liewe Jesus en sy kan alles doen wat sy nie hier op aarde kon doen nie. Daar kan sy nou loop en “swiets” eet.

“Dit het hulle ’n bietjie berusting gebring, maar hul hartjies is baie seer. Leané is ’n goeie ousus wat baie meer verantwoordelik optree as nodig. Sy het soveel geduld gehad met Mienke,” sê Verna. “Donderdag het Zamoné die helfte van die dag gelê en slaap. En in die aande slaap sy met haar ogies toe, maar dan hoor ek hoe sy saggies huil en sê ‘nee, nee’. Leané probeer sterk wees, maar ek kan sien sy is baie hartseer. Hulle praat die hele tyd van Mienke.”

Sy en Ryno wissel self tussen kwaad, hartseer en daardie vraag – hoekom?

“Mienke was Dinsdag so ’n gelukkige kind en sy was die laaste tyd so gesond. Maar dis God se tyd. Voor die ongeluk het ek altyd gehoor mense sê hulle praat met die Here en Hy gee hulle krag. Dan het ek gedink, wat? Nou verstaan ek dit. Dis hoe ons staande bly. Die Here gee elke dag vir ons genoeg krag om net deur daardie dag te kom,” sê Verna.

“Geen ouer is ooit voorbereid om sy kind te begrawe nie. En selfs met Mienke se uitdagings het ons nooit daaraan gedink of daaroor gepraat nie. Ons gaan deur soveel emosies,” sê Ryno.

Amper 60 000 mense het deur die jare aangesluit by die Please Pray for Mienke-Facebook-blad om die Mulders te ondersteun. “In haar kort lewetjie het sy soveel mense aangeraak. Weet jy, party dae was ek net heeltemal gedaan en moedeloos, dan gaan kyk ek na die blad en lees ’n inskrywing wat iemand gemaak het en dan was dit net wat ek nodig gehad het om weer moed te skep. Mense het geen idee hoe baie hul liefde en omgee beteken nie,” sê Verna.

Meer oor:  Mienke Mulder  |  Breinskade  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.