Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mienke ná maande tuis

Die groot dag het uiteindelik vir die Mulder-gesin aangebreek. Mienke (10 maande), wat op 25 Augustus aan ’n bottel melk by ’n dagmoeder in Mbombela, Mpumalanga, verstik het, kon Vrydag ná maande in die hospitaal huis toe gaan.

Ryno en Verna kon hul jongste dogter by die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Johannesburg gaan haal.

Ryno Mulder speel vir oulaas met van die kinders in die Netcare-rehabilitasiehospitaal voordat hy en sy vrou, Verna, Mienke huis toe neem. Foto: Seugnet van Zyl

Mienke was sowat drie maande in dié hospitaal nadat sy aanvanklik in die waakeenheid van die Netcare Waterfall City-hospitaal in Midrand was waarheen sy per lugambulans geneem is.

Sy het ’n halfuur lank nie suurstof gekry nie en breinskanderings het getoon dat sy ernstige breinskade opgedoen het. Al kan sy sien, kan haar brein nie vertolk wat sy sien nie en is sy dus “blind”.

Haar ouers was baie opgewonde om haar huis toe te neem, maar terselfdertyd ook senuweeagtig. Hulle het gehoop dat sy teen haar ontslag ten volle genees sou wees.

Verna sê als voel somtyds nog so onwerklik.

“In my hart het ek geweet dat wanneer jy ontslaan sou word, jy sommer uit rehab sou hardloop. Ek kon sien hoe ons huis toe gaan en jy met jou lagbekkie saam met jou sussies buite op die gras speel . . . Jou skopfietsie staan ook al reg, Mienke,” lui ’n inskrywing wat Verna Dinsdag op Mienke se ondersteuningsblad, Please pray for Mienke, op Facebook geplaas het.

Om in Mienke se behoeftes te voorsien moet ’n heeltydse tuisverpleegster aangestel word, omdat die Mulders se mediese fonds nie meer voorsiening vir haar rehabilitasie maak nie.

Verna en Ryno Mulder saam met hulle jongste dogter, Mienke, in die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Johannesburg. Foto: Seugnet van Zyl

Een maand in dié hospitaal kos R350 000.

Die verpleegster en die melk, wat Mienke deur ’n voedingsbuis in haar maag moet “drink”, sal haar ouers onderskeidelik R14 000 en R10 000 per maand kos.

Die fonds dek glad nie dié spesiale melk nie en sal die verpleegster se salaris net tot einde Desember betaal.

Verna was aanvanklik elke dag langs Mienke se bed in die hospitaal. Sy het onlangs weer halfdag begin werk en sal weer voldag moet werk sodra Mienke tuis is.

Ryno bly en werk nog in Mbombela en kom kuier naweke vir sy gesin.

Verna en Mienke se ouer sussies, Leané (4) en Zamoné (22 maande), het onlangs na Johannesburg getrek.

Ryno gaan dié naweek ook sy baard, wat hy laat groei het sedert Mienke in die hospitaal opgeneem is, afskeer.

“Dit was die ooreenkoms. Solank as wat Mienke in die hospitaal was, het ek my baard laat groei. Maar wanneer sy uitkom, moet dit waai,” sê hy.

Mienke Mulder se tas is gepak sodat sy saam met haar ouers, Ryno en Verna, kan huis toe gaan.Foto: Seugnet van Zyl

Verna het Vrydag vir elkeen van die 14 kinders in die rehabilitasiehospitaal ’n Kersgeskenk gegee.

Terwyl sy en Ryno Mienke se laaste goedjies bymekaargekry het, het van die kinders se ouers Verna kom bedank. Verpleegsters en terapeute het ook die “lewende poppie”, na wie hulle maande lank omgesien het, kom groet.

“Hierdie jaar is ons jaar. Ons gaan Kersfees by ons huis vier. Mienks gaan vir Kersfees en haar verjaardag by die huis wees,” sê Verna.

Mienke sal op 31 Januarie ’n jaar oud wees.

“Ons kinders is ons lewe. Jy moet sterk wees vir hulle en alles vir hulle doen.”

Meer oor:  Baba Mienke  |  Verna Mulder  |  Johannesburg  |  Mbombela  |  Mpumalanga  |  Verstik  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.