Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Miljoene rande se resiesperde dalk van kant gemaak
Die betogers het met stokke, knopkieries en grawe op die stalle toegesak. Foto: Cara-Lee Dorfling

Resiesperde van miljoene rande in Port Elizabeth sal moontlik van kant gemaak word weens ernstige beserings wat hulle opgedoen het gedurende ’n betoging by die Fairview-renbaan se stalle.

Een perd wat glo erg geslaan en gesteek is, het gedurende die voorval gevrek, met nog perde wat weens hul beserings moontlik van kant gemaak sal moet word.

’n Groep van bykans 200 betogers, insluitend ’n groep oud-stalknegte van Fairview, het Donderdagoggend op die stalle toegesak en sowat 28 perde met stokke en grawe uitgejaag.

Die optrede spruit uit ’n dispuut tussen die stalknegte en hul werkgewer.

Oppenheimer-perd ook verwilder

Vier van die perde wat uit die stalle gejaag is, is deur die polisie se berede-eenheid op die nabygeleë N2 gered en teruggebring, terwyl die res verwilderd tussen digte bosse ingehardloop het en later weer gevang is.

Dié resiesperde, wat volgens ’n bron vir ’n paar miljoen rand verkoop word nog voordat hulle aan wedrenne deelgeneem het, is teruggevind met van hulle wat steekwonde en sigbare hale oor die rug en bene het, het ’n amptenaar gesê wat die perde gesien het.

Volgens Hedley McGrath, mede-eienaar van sommige van die perde wat uitgejaag is, is 22 van die perde beseer.

Een van die beseerde perde behoort aan Mary Oppenheimer-Slack, dogter van die oorlede mynmagnaat Harry Oppenheimer, het McGrath gesê.

’n Ondersoek word gehou om vas te stel of die perde die beserings kan oorleef of eerder verdere lyding gespaar moet word en uitgesit moet word.

Die perd wat Donderdagoggend gevrek het, is volgens ingeligte bronne Mark the Doorman, wat verlede Vrydag nog derde gekom het in die 1 600 m-wedren op Fairview.

Só het dispuut ontstaan
hedley mcgrath
Hedley McGrath, mede-eienaar van sommige van die perde wat Donderdag by die stalle uitgejaag is. Links van hom is ’n private veiligheidswag. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die dispuut agter die betoging spruit uit ’n voorval van Februarie toe een van die stalknegte blykbaar vir Calgary, een van die resiesperde, aan die kant van die nek, naby ’n aar, gesteek het.

Volgens McGrath behoort Calgary aan prominente perde-eienaars in Suid-Afrika en sou die perd se vrekte groot finansiële verliese ingehou het.

McGrath beweer die betrokke stalkneg wou geld hê om nie weer terug te keer na die perdestalle nie. Omdat McGrath nie die geld betaal het nie, het die res van die stalknegte volgens hom blykbaar hierna in solidariteit weggebly van die werk.

Dit is ’n baie hartseer dag in die land wanneer onskuldige diere doodgemaak en mishandel word weens gierigheid en haat

Elke werknemer het glo vroeër vorms vir die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) geteken. Die werkers het Woensdagmiddag by die stalle opgedaag en geëis die vorms moet aandui hulle is afgedank, aangesien die vorms tans aandui dat hulle gedros het.

“Ons het niemand afgedank of weggejaag nie. Hulle het besluit om weg te bly.

“Die stalknegte dring nou aan dat hulle ’n bedrag geld ontvang en ander wil hul werk terughê. Hoe kan ek iemand terugneem wat ’n resiesperd gesteek het?”

Wat die stalknegte sê
Die perdestalle staan Donderdagoggend leeg nadat betogers die perde verjaag het. Foto: Cara-Lee Dorfling

Net duskant die perderenbaan is ’n informele nedersetting waar die meeste van die stalknegte bly.

Volgens Sibongile Ncgaphayi, wat namens die groep praat, is Calgary per ongeluk raakgesteek terwyl die stalkneg die perd se hare gesny het. Hy sê die stalkneg het aangebied om die veeartskoste te dra, maar is eenvoudig weggejaag. Die res van die versorgers het volgens Ncgaphayi gemeen die afdanking was onregverdig en het die eienaar aangevat, waarna 40 van hulle ook afgedank is.

Hoe kan ek iemand terugneem wat ’n resiesperd gesteek het?

Ncgaphayi sê die groep het die saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys, wat teen hulle bevind het.

Hulle het onlangs by die departement van arbeid aangeklop met die hoop op regshulp om terugbetaling van hul salaris sedert Februarie te ontvang, asook uitbetaling van die WVF.

Hy het erken die groep het die perde Donderdagoggend vrygelaat sodat hulle die aandag van die eienaars kan kry, maar ontken ten sterkste dat hulle ’n perd doodgeslaan het.

“Interdik oortree”
Die groep betogers het blykbaar dié hek van die perdestal oopgebreek om toegang te verkry. Foto: Cara-Lee Dorfling

Ondanks gerugte dat die perde na ’n plek van veiligheid geneem sal word, het McGrath gesê die perde sal by die stalle bly. “Ek betaal my belasting en huur. Ek het ’n hooggeregshofinterdik wat (die voormalige werkers) verbied om hier in te kom. Die interdik is oortree en die owerhede moet hul werk doen.”

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie handhaaf ’n sterk teenwoordigheid in die gebied.

’n Klag van kwaadwillige saakbeskadiging word ondersoek. Teen Donderdagmiddag is een man in hegtenis geneem.

Naidu het ook gemeenskapslede gewaarsku teen die verspreiding van fopnuus, omdat dit tot gevaarlike optrede kan lei.

Verskeie boodskappe het Donderdagoggend op sosiale media gedraai dat hulp van gelisensieerde vuurwapeneienaars by Fairview benodig word en dat ammunisie glo verskaf sou word.

“ ’n Hartseer dag”
Een van die perde wat later Donderdag weer gevang en na die stalle teruggebring is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Intussen het Beverly Rademeyer, inspekteur van die Animal Anti-Cruelty League (AACL), wat ook Donderdag hulp verleen het op die toneel, die voorval veroordeel.

“Jy kan die trauma sien wat die perde aangedoen is. Daar is ander roetes wat ontevrede werknemers kan neem. Dit moet met die werkgewer uitgeklaar word – die diere moet nooit betrek word nie – hulle is nie deel van die argument nie,” het sy gesê.

Die International Racing Club, wat ’n groot aantal van die perde by Fairview se stalle besit, het ook op die voorval gereageer.

Fairview-renbaan, resiesperd, betogers
Die resiesperd is na bewering deur ’n groep betogers doodgeslaan nadat hulle Donderdagoggend op die perdestalle by die Fairview-renbaan toegesak het. Foto: Cara-Lee Dorfling

“Dit is ’n baie hartseer dag in die land wanneer onskuldige diere doodgemaak en mishandel word weens gierigheid en haat,” het Michael de Haast, woordvoerder vir die klub, gesê.

Dié klub, wat oor die afgelope paar jaar meer as R20 miljoen belê het in Suid-Afrika se perdewedrenne, het vir beslissende optrede van die perdewedrengroep Phumelela Gaming gevra.

Die klub het afrigters en ander stalle versoek om alle wedrenne onmiddellik te staak totdat Phumelela Gaming ingryp en die perde se veiligheid verseker.

• Navrae vir kommentaar is aan Phumelela Gaming gestuur, maar daar was nie onmiddellike reaksie nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.