Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Miljoene vir maatjies

Die Nasionale Lotery-soustrein wat die geldkoffers van Suid-Afrika se Olimpiese liggaam met meer as R750 miljoen laat bult het, het ontspoor.

Lotto-verdeling

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) en sy voorganger, die Nasionale Olimpiese Komitee (Noksa), het tussen 2003 en 2017 altesaam R780 miljoen ontvang van die Nasionale Loteryraad (NLC).

Teen ’n jaarlikse gemiddeld van R52 miljoen maak dit Saskok verreweg die grootste enkele begunstigde van lotery-geld. Boonop het geaffilieerdes van Saskok ook honderde miljoene van die raad ontvang.

Nou is die Lotto-kraantjie egter toegedraai nadat die NLC vanjaar nuwe riglyne gepubliseer het in die dokument “Funding Priority Areas”.

Volgens die nuwe riglyne mag na­sionale sportfederasies (wat Saskok insluit) nou nie meer nie as R5 miljoen per jaar ontvang, streeksfederasies R2,5 miljoen en geaffilieerdes van die streeksfederasies R750 000.

Daarby is daar nou ’n afkoeltydperk van 12 maande tussen uitbetalings, wat beteken niemand mag meer as een keer per jaar Lotto-geld aanvra nie.

Die nuwe riglyne laat Saskok in ’n verknorsing. Saskok het reeds verlede jaar sy gordel begin intrek en geen raadslede of onnodige werknemers is in April vanjaar na die Statebondspele gestuur nie.

In ’n onlangse e-pos het ’n Saskok-woordvoerder gesê die organisasie “sukkel om te funksioneer onder ons hoofmandaat (die ondersteuning van atlete). Ons probeer oorleef deur fondse van ander organisasies”.

Die tye het inderdaad verander in die Saskok-wandelgange. Nie so lank gelede nie is geld gemors asof dit nooit sou opraak nie. Administrateurs is die wêreld vol gevlieg – gewoonlik in besigheidsklas – en was geregtig op hemelhoë dagtoelaes en verblyf in vyfsterhotelle.

Vroeër vanjaar het die departement van sport en ontspanning egter ’n komitee op die been gebring, onder die voorsitterskap van regter Ralph Zulman, om Saskok se doen en late te ondersoek. Die komitee het gehoor dat Saskok R2,2 miljoen per jaar aan toelaes vir sy raadslede bestee het, al is net sowat 10% van alle raadsvergaderings aan besprekings van sportverwante sake gewy.

Gideon Sam, Saskok-president, was in ’n stadium geregtig op ’n dagtoelaag van $500 per dag, sy visepresident, Hajeera Kajee, op $350 per dag en ander raadslede op $200.

Sam het aan die komitee gesê hy dink nie daardie bedrae was buitensporig nie. Trouens, dit was “redelik tot selfs te min”, het hy gesê.

Die gulhartigheid van die NLC was die enigste rede waarom Sam-hulle in soveel weelde kon reis. In 2016 alleen het Saskok byvoorbeeld byna R190 miljoen van die NLC ontvang. Net die organiseringskomitee van 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi het meer ontvang: R200 miljoen, tussen 2009 en 2011.

Maar selfs in rojale tye het talle atlete wat vir 2016 se Olimpiese Spele voorberei het, finansieel geraap en skraap. ’n Laagtepunt was toe atlete wat nie op 23 Julie op ’n spesiale SAL-vlug na die Spele in Rio de Janeiro gereis het nie, net R12 000 aangebied is vir hul reiskoste. Sam het gesê daar “is nie begroot” vir meer nie.

Tog is elke raadslid volgens getuienis voor die Zulman-komitee toegelaat om op Saskok se rekening na die Spele te reis en elkeen was geregtig op ’n dagtoelaag.

Die verhouding tussen Saskok en die NLC se magtige verspreidingsagentskap vir sport en ontspanning (SRDA), wat geld onder sportliggame verdeel het, was baie jare lank knus.

Volgens Gaming the Lottery, ’n organisasie wat wêreldwyd ondersoek instel na die loterybedryf, was daar in die meeste jare sedert 2003 minstens een senior Saskok-beampte by SRDA-sittings. Sommige jare was daar meer as een, asook verteenwoordigers van Saskok-geaffilieerdes.

Tussen 2008 en 2012 was Sam byvoorbeeld die hoof van Saskok en die SRDA. Saam met hom by albei organisasies was Kajee, Saskok se voormalige finansiële hoof Vinesh Maharaj (wat vroeër vanjaar afgedank is) en die Saskok-raadslid Ray Mali. Ook Motlatsi Keikabile en Aleck Skhosana het sitplekke aan die SRDA-tafel gehad terwyl hulle Saskok-raadslede was.

By navraag het Tsietsi Maselwa, hoof van die NLC se regsafdeling, gesê daar was protokol om belangebotsings te hanteer. Van lede is verwag om hulself te verskoon wanneer ’n sportliggaam waarmee hulle geassosieer was, bespreek is.

Dr. Harold Adams is jare in NLC-verslae aangedui as die president van Boland-atletiek, ’n streeksfederasie wat byna R9 miljoen ontvang het sedert Adams in 2009 ’n SRDA-lid geword het.

Adams was ook sedert 2014 ’n visepresident van ASA, wat sedert daardie tyd R40 miljoen van die lotery-komitee ontvang het.

In 2017 het Skhosana gedien as ASA-president, Saskok-raadslid én SRDA-lid. Daardie jaar het Saskok en ASA tussen hulle R136 miljoen ontvang.

Terwyl Kajee ’n SRDA-lid was, het Tafeltennis Suid-Afrika meer as R30 miljoen lotery-hulp gekry. Kajee is al jare lank ’n leier van dié federasie.

Maharaj is die tesourier van Vlugbal Suid-Afrika en Mali het bande met Krieket Suid-Afrika. Dié kodes het oor die jare groot bedrae in lotery-geld ontvang.

Meer oor:  Gideon Sam  |  Lotto  |  Bedrog  |  Korrupsie  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.