Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Miljoene vir rits nuwe base terwyl armes ly

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) stort in duie weens wanbestuur en die besnoeiing van sy begroting met 10% vanjaar.

Derduisende mense wat hul werk verloor weens die Covid-19-inperking kan weens die krisis toegang tot dié broodnodige kommissie kwyt wees.

Cameron Morajane, die KVBA se uitvoerende direkteur, het die KVBA se kerntake vir alle praktiese doeleindes tot niet gemaak, maar terselfdertyd ’n nuwe middelvlak-bestuurskader in provinsiale en streekkantore ingestel wat elk tussen R1 miljoen en R1,5 miljoen per jaar verdien.

Deeltydse kommissarisse, wat meer as 60% van die verhore in arbeidsgeskille bereg en wat talle verhore afweer in versoeningsvergaderings waar die geskille dikwels geskik word, se werk is opgeskort.

Die publiek word ook sedert die instelling van die Covid-19-inperking glad nie meer in kantore van die KVBA toegelaat nie ondanks die verslapping van die inperkingsmaatreëls. Die verbod op toegang word nou verleng om koste te bespaar.

Boonop is die KVBA se inbelsentrum steeds gesluit. Die inbelsentrum het lede van die publiek gehelp om ingewikkelde vorms oor arbeidsdispute in te vul en hulle op hoogte gehou van vordering met die oplossing van dispute en verhoordatums wanneer ’n dispuut op arbitrasie uitloop.

Cecelia Brümmer, ’n voormalige senior deeltydse kommissaris, sê die aanvanklike vorm waarop ’n arbeidsgeskil aanhangig gemaak word, is ’n “ingewikkelde en intimiderende” dokument, terwyl diegene wat dit moet invul, van die laags besoldigde mense in die gemeenskap is.

“Hulle het hulp daarmee nodig, maar daardie toegang is nou heeltemal afgesny,” sê sy.

Morajane het ’n vesting rondom homself geskep.

Drie senior kommissarisse met wie Rapport hieroor onderhoude gevoer het, sê Morajane het onlangs streng voorskrifte uitgereik dat niemand wat vir die instelling werk enige uitsprake aan die media mag maak nie.

“Morajane het ’n vesting rondom homself geskep. Jy het byvoorbeeld vingerafdruk-identifikasie nodig om naby sy kantoor in die KVBA-hoofkantoor in Johannesburg te kom,” het een van hulle gesê.

Die KVBA se begroting van R1 miljard per jaar is vanjaar met R99 miljoen besnoei, maar aanstaande jaar word dit met nog R170 miljoen verminder en die jaar daarna met R231 miljoen.

Cameron Morajane
Cameron Morajane Foto: Elvira Wood

Morajane het Woensdag in ’n voorlegging oor die KVBA se jaarverslag aan die parlement gesê die instelling sal tot niet gaan as die besnoeiings deurgevoer word.

Die KVBA se 168 voltydse kommissarisse, wat sedert einde Maart met volle salarisse tuis gebly het en meestal geen werk gedoen het nie, het egter pas salarisverhogings van 5% gekry en vir talle was daar prestasiebonusse ook.

Deeltydse kommissarisse, waarvan 574 geakkrediteer is, het daarenteen hul inkomste verloor sedert die inperking en is twee weke gelede meegedeel dat geen werk in Desember en Januarie aan hulle toegeken sal word nie.

Kommissarisse het gewoonlik 30 dae tyd om ’n dispuut te probeer skik tussen partye. Die KVBA se teiken is om 70% van die dispute te skik voordat die arbitrasie-fase bereik word. Verlede jaar is 74% van dispute geskik.

Maar as ’n skikking nie binne 30 dae bereik word nie, moet ’n arbitrasie-verhoor kragtens wet gehou word, waarna die kommissaris binne 14 dae uitspraak moet gee oor die verhoor.

Die mense wat die ergste hierdeur geraak word, is gewone werkers wie se reg op toegang tot geregtigheid vertraag word en heel moontlik deur die vertraging van hul regte ontneem word.

Die versoeningsfase word nou vir alle praktiese doeleindes uitgeskakel omdat die deeltydse kommissarisse nie meer gebruik word nie. Alle dispute wat nie dadelik aan ’n kommissaris toegeken kan word nie, word voortaan direk vir arbitrasie verwys.

Gedurende die inperking het ’n waglys vir arbitrasies opgebou. “Al dié sake gaan op die waglys van die agterstand kom. Die agterstand gaan vinnig groei en dit gaan maande duur voordat arbitrasies kan begin. Dit is alombekend dat arbitrasie baie duurder is en baie meer tydrowend as die versoeningsproses,” het ’n senior kommissaris aan Rapport gesê.

“Die mense wat die ergste hierdeur geraak word, is gewone werkers wie se reg op toegang tot geregtigheid vertraag word en heel moontlik deur die vertraging van hul regte ontneem word,” sê die Vereniging van Abeidsdispuut-resolusie Praktisyns (Saldrep), wat deeltydse kommissarisse verteenwoordig.

Saldrep waarsku in ’n brief aan die KVBA se topbestuur dat die agterstande opbou terwyl die nagevolge van die Covid-19-pandemie op die arbeidsmark vererger.

“Die verbod op toegang tot die KVBA se kantore verbreek ons basiese rol om geregtigheid te verseker deur dispute vinnig op te los,” lui die brief.

’n Afvaardiging van Saldrep het verlede week met Marius Kotze, senior nasionale kommissaris, vergader oor die besnoeiings, maar Kotze het vasgeskop dat geen sake in die afsienbare toekoms aan deeltydse kommissarisse toegeken gaan word nie.

Bheki Ntshalintshali, hoofsekretaris van Cosatu wat vakbonde op die KVBA se beheerliggaam verteenwoordig, sê hy stem saam dat die KVBA se kernfunksies aangetas word.

Morajane het by navraag ontken dat ’n nuwe bestuurskader geskep is, maar Ntshalintshali het dit bevestig, asook ’n senior kommissaris.

Volgens Morajane is alternatiewe maniere ingestel om dispute te behartig pleks van die publiek wat die kantore besoek.

Die oproepsentrum is na provinsiale kantore afgewentel “om doeltreffendheid te verhoog”, het hy by navraag gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.