Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Minder kleur in wêreld ná James se dood, sê vriend
James Small se ma, Vourn, het dié foto van haar seun op haar Faceboekprofiel gesit.

James Small, die oud-Springbokrugbyspeler wat verlede week in die ouderdom van 50 skielik dood is, se aanhangers en vriende “gee nie om waar hy in die ure voor sy dood was nie”.

Philip van den Berg en Wouter de Vos is slegs twee van sy vriende wat Sondag op sosiale media uitgevaar het nadat Rapport berig het Small is Dinsdagaand glo naak en bewusteloos in ’n seksklub in Johannesburg gekry.

Die Life Bedford Gardens-hospitaal in Bedfordview in Johannesburg waar James Small (50), oud-Springbokrugbyspeler, verlede week dood verklaar is. Foto: Werner Beukes
The Harem-klub in Bedfordview in Johannesburg. Foto: The Harem-webblad
Wyle James Small

Van den Berg sê op Facebook Small was ’n mens wat vir ander omgegee en baie vir mense gedoen het. “Diegene wat tyd gevat het om James te verstaan het altyd geweet hy is ’n oop boek. Wat jy gesien het, is wat jy gekry het. Daar is baie minder kleur en karakter in die wêreld oor noudat hy weg is.”

De Vos sê hy wens mense wil “eerder fokus op die legende wat (hy) was en die positiewe bydrae wat (hy) in die land gelewer het”.

Luidens Rapport het ’n vrou Dinsdagaand laat glo by die Life Bedford Gardens-hospitaal in Bedfordview ingestorm en gesê “daar is ’n kliënt van haar klub” in haar motor.

Dié kliënt was glo Small. Hy is by die hospitaal dood verklaar.

Rapport berig Small was glo vroeër die aand by ’n klub, The Harem.

Netwerk24 het die luukse tweeverdieping huis in Bedfordview in Johannesburg Sondag besoek, maar dit verlate gevind.

Twee bure in die omgewing het by navraag gesê hulle weet niks van The Harem-klub in hul midde nie. Vroue-onderklere was duidelik van die straat se kant af sigbaar op ’n droograk, maar daar was geen aanduiding dat dit ’n “volwasse speelplek” is nie.

Niemand het ook gereageer op die drie kontaknommers wat op die klub se webblad verskyn nie.

Só lyk dit in The Harem-klub waar James Small, oud-Springbokrugbyspeler, glo die aand voor sy dood was.Foto: The Harem-webwerf
Gaste by die luukse The Harem-klub in Johannesburg kan duur vonkelwyn geniet. Foto: The Harem-webbblad

Die klub is ’n klipgooi, sowat 1,5 km, van die Life Bedford Gardens-hospitaal.

The Harem word op hul Facebookblad beskryf as “ ’n volwasse vermaakklub” waar ontkleedanse en masserings verkry kan word.

Gavin Houlston, die Small-familiewoordvoerder, weier om enige kommentaar op die berig in Rapport te gee.

Hy het vroeër aan Netwerk24 gesê die familie is uiters getraumatiseerd en vra vir privaatheid om te rou ná Small se skielike dood.

Kapt. Mavela Masondo, ’n polisiewoordvoerder, het Sondag wel bevestig dat ’n geregtelike ondersoek na Small se dood gedoen word. “Enige verwikkeling in die ondersoek, wat die uitslae van die lykskouing insluit, sal met sy familie bespreek word,” het hy gesê.

‘n Sitvertrek in The Harem-klub in Bedfordview in Johannesburg. Foto: The Harem-webblad

Christina Storm Nel, met wie Small vir jare in ’n verhouding was, se pa, Chris Storm, het gesê Small het Woensdag in Johannesburg inmekaargesak.

Hy het glo vanaf Kaapstad na Johannesburg gevlieg en was glo oppad na Ruby, sy 14-jarige dogter by Storm Nel, van wie hulle gedeelde toesig gehad het.

Nie Houlston of Storm kon meer inligting gee oor presies waar Small inmekaargesak en dood is nie.

Vourn Small, James se ma, het gesê hy is vermoedelik aan ’n hartaanval dood.

Small se begrafnis sal Donderdag, op oudpres. Nelson Mandela se verjaardag, om 14:00 by The Deck at The Wanderers Rugby-klub in Johannesburg gehou word. Die familie sê enigiemand is welkom om dit by te woon en daar sal vir die publiek op een van die onderste velde plek gemaak word.

Meer oor:  James Small  |  Seksklub  |  Rugby  |  Hartaanval  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.