Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Minder sterftes op paaie in O-Kaap

Die padsterftes oor die Paasnaweek in die Oos-Kaap was aansienlik minder as in 2019 voordat die koronaviruspandemie uitgebreek het.

Minstens 20 mense is vanjaar dood, agt verlede jaar toe interprovinsiale reise oor die Paasnaweek verbied is en 68 in 2019.

Marshall von Buchenroder, die DA se woordvoerder oor vervoer in die Oos-Kaap, het gesê die lae sterftesyfer is egter ’n skrale troos vir dié families wat hul geliefdes verloor het.

Hoewel die sterftesyfer minder as in 2019 is, moet in ag geneem word dat die skoolvakansie en Paasnaweek nie vanjaar saamgeval het nie en dit tot laer verkeersvolumes bygedra het.

Talle van die sterftes kan aan roekelose en nalatige bestuur toegeskryf word, het hy gesê.

“Daar is ’n mate van wetteloosheid op ons paaie. Mense doen net wat hulle wil, want daar is niemand wat hulle vir hul gedrag aanspreeklik hou nie,” meen Von Buchenroder.

“Wetstoepassing wat gedurende die jaar, en nie net seisoenaal toegepas word nie, kan die sterftesyfer op Oos-Kaapse paaie verminder.”

Von Buchenroder het gevra dat verkeersbeamptes streng moet optree teen diegene wat die verkeersreëls verontagsaam en ander se lewe in gevaar stel.

Kupido Baron, woordvoerder van die Nelson Mandelabaai-metro, het gesê die toevloei van besoekers na die stad gedurende Paasnaweek is goed hanteer te midde van druk om ’n derde vlaag van die virus te voorkom.

Adv. Keith Meyer, die metro se hoof van veiligheid en sekerheid, het gesê die metro se beplanning vir die Paasnaweek het vroeër as gewoonlik begin.

“Dit was vanjaar relatief stil en kan toegeskryf word aan die verhoogde sigbaarheid van wetstoepassers, die aandklokreël en die publiek se bewustheid van die Covid-19-pandemie.”

Die metro se mobiele eenheid, wat vroeër vanjaar bekom is op padwaardigheidstoetse langs die pad te doen, is ’n groot sukses en 51 van die 122 voertuie wat getoets is, was onpadwaardig.

“Dit is ’n groot stap in die regte rigting om veiligheid op die paaie te verbeter.”

Meer as 3 300 voertuie is voorgekeer, daar was 49 padblokkades, 12 mense is vir dronkbestuur in hegtenis geneem en 1 572 boetes is uitgereik.

By die 37 drankwinkels wat in die metro besoek is, is twee mense in hegtenis geneem nadat hulle sonder ’n lisensie handel gedryf het.

Die metro het hom veral toegespits op byeenkomste en strande, en toegesien dat die publiek maskers dra. Daar is ook seker gemaak dat kuierplekke waar drank verkoop word by die inperkingsregulasies hou.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Sterftes  |  Padsterftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.