Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Minder steun – en minder medaljes
Anrune Liebenberg het silwer gewen in die 440 m op vanjaar se Paralimpiese Spele en Reinhardt Hamman het goud gewen in spiesgooi. Foto’s: Wessel Oosthuizen/Saspa

’n Algehele gebrek aan geld en ontwikkeling van gestremde sport veroorsaak dat Suid-Afrika op ­elke Paralimpiese Spele minder medaljes inoes.

Min word gedoen om afgetrede legendes te vervang, en kenners waarsku die land sal teen 2020 net ’n handjievol Paralimpiese atlete hê wat kan deelneem.

Suid-Afrika het sedert die Paralimpiese Spele in Athene in 2000, waar die land 38 medaljes ver­ower het, elke jaar minder medaljes huis toe gebring. Suid-Afrikaanse atlete het vanjaar 17 medaljes op die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro verwerf en 22ste op die medaljelys geëindig. In 2012 was dit 29 medaljes.

“Die land is trots op alle atlete. Hulle is ons helde,” het Fikile Mbalula, minister van sport, verlede Dinsdag met die atlete se terugkeer gesê.

Hy sê Suid-Afrika moet seker maak ons atlete word ondersteun sodat hulle die land kan verteenwoordig. Maar afrigters en atlete sê dit ontbreek.

“Dit kom alles neer op ’n tekort aan geld,” sê Moekie Grobbelaar, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Sport vir Mense met Gestremdhede (SASAPD) en voormalige Paralimpiese atleet.

“Sommige atlete het nie geld om by die baan uit te kom om te oefen nie. En as jy in ’n rolstoel is, betaal jy dubbel vir ’n taxi.”

Huisgesinne met ’n gestremde het meer uitgawes as ander gesinne.

“Hulle kan nie vir afrigting betaal nie. Daarby wil afrigters van atlete sonder gestremd­hede selde gestremde atlete afrig, en hulle moet dus duurder betaal vir private afrigting.”

Emile de Bruin, wat die Paralimpiese swemmer Emily Gray afrig, sê hoewel Olimpiese atlete ook geldelik sukkel, kry hulle meer finansiële steun van die regering as die Paralimpiese span.

“Ons het boonop nie geweet wie Rio toe gaan tot ses weke voor die Paralimpiese Spele nie. Dit was toe moeilik om borge te kry,” sê De Bruin.

By hul terugkeer het Paralim­piese silwer- en bronsmedalje-wenners R30 000 van die departement van sport en ontspanning gekry, teenoor die onderskeidelik R70 000 en R50 000 vir hul Olimpiese eweknieë.

Gouemedalje-wenners het wel deur die bank dieselfde beloning gekry. Ampie Louw, wat die Paralim­piese atleet Oscar Pistorius afgerig het, sê ander lande het Suid-Afrika verbygesteek met oefenmetodes en tegnologiese hulpmiddels vir gestremde atlete.

“Suid-Afrika het voor 2000 bygehou. Die groei in gestremde sport is astronomies, maar ons bly agter,” sê Louw.

Hy meen daar is ook nie genoeg kundiges om atlete te identifiseer of plekke waar hulle ontwikkel kan word nie.

“Waar is die jong atlete wat die plek van legendes soos Natalie du Toit (swemmer) en Oscar Pistorius moet vat? Daar is oorgenoeg talent, maar niemand wat hulle uitwys nie. Dis net die sportsentrum aan die Universiteit Stellenbosch wat regtig Paralimpiese atlete oplewer.”

Hy sê die regering moet daadwerklik aan ’n vierjaarplan begin werk om jong atlete vir die volgende Spele te ontwikkel.

’n Bron in Saskok sê Suid-Afrika het die talent en kennis om dit te ontgin, maar die beskikbare geld word nie daarvoor aangewend nie.

Grobbelaar sê die land moet versigtig wees om Suid-Afrika se prestasies met vorige jare te vergelyk toe Pistorius en Du Toit deelgeneem het.

“Suid-Afrika was besonder gelukkig om twee sulke superhelde gelyk te hê.”

Sy sê atlete neem nie meer aan so baie nommers deel nie omdat hulle verkies om te spesialiseer.

Meer oor:  Ampie Louw  |  Medaljes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.