Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Minister besoek St. Albans ná aanval op bewaarder

Die St. Albans-gevangenis is Suid-Afrika se berugste tronk, het Ronald Lamola, minister van justisie, Donderdag erken.

Bob Hewitt, oudtennisspeler en -afrigter wat aan verkragting skuldig bevind is, Christopher Panayiotou, wat sy vrou, Jayde, vermoor het, en Bongo Nombiba, voormalige ANC-raadslid wat bedrog gepleeg het, word onder andere in die tronk aan die buitewyke van Port Elizabeth aangehou.

Gevangenes van die Medium B-afdeling in die St. Albans-gevangenis steek hul hande by een van die tronkselle se traliehek uit. ’n Gevangene het die afgelope Sondag ’n bewaarder net buite een van die selle, wat op ’n binnehof uitloop, met ’n mes in die nek gesteek. Foto: Lulama Zenzile

Lamola was op ’n oorsigbesoek aan die gevangenis nadat Magosonke Krawe (31), ’n bewaarder, Sondag glo deur ’n gevangene met ’n selfgemaakte mes in die nek gesteek is.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het Sondag gesê die gevangene, Lwando Sporow Tyatya (35), is dood ná “ ’n skermutseling” met bewaarders.

Volgens betroubare bronne het die aanval egter in die binnehof van die Medium B-afdeling gebeur, terwyl Tyatya glo in ’n kantoor dood is wat op die binnehof uitloop.

Hy is na bewering met knuppels geslaan en die polisie het stukke daarvan as bewysstukke gekonfiskeer.

Die minister wou nie kommentaar oor die voorval lewer nie.

“Dit word ondersoek, so ek wil nie bespiegel nie.”

Beamptes van die departement van korrektiewe dienste deursoek gevangenes van die St. Albans-gevangenis vir wapens voordat hulle vir middagete in die binnehof aanmeld. Foto: Lulama Zenzile

In die lig van protesoptrede teen geslagsmisdade in Kaapstad, sê Lamola gesê sowat 500 gevangenes in St. Albans is aan seksuele misdrywe skuldig bevind.

“Daar is oor die land heen 19 003 gevangenes wat aan verkragting skuldig bevind is. Meer as 20 000 (insluitend die 19 003) is aan alternatiewe seksuele misdrywe skuldig bevind.”

Gegewe die protesoptrede en oproepe vir beter beskerming van vroue en kinders, sê hy die sentrums moet opnuut besef watter rol hulle speel as rehabilitasiesentrums vir gevangenes.

“Die sentrums is verantwoordelik vir die rehabilitasie van mense. Hulle moet besef dat vroue gerespekteer moet word. So kan ons ’n beskaafde samelewing bou.”

Die polisie-en-gevangenisvakbond Popcru het die DKD die afgelope week ná die aanval op Krawe skerp gekritiseer.

Amptenare staan gereed agter skilde om gevangenes by ’n tronksel in te lei nadat hulle middagete gekry het. Foto: Lulama Zenzile

Popcru sê in ’n verklaring die departement kan nie die gewelddadige aanvalle in tronke hokslaan nie. Volgens hul inligting is 88 amptenare sedert 2010 in die St. Albans- amptenare aangerand. Hulle het die aanvalle aan oorbevolking en die tekort aan personeel toegeskryf.

Lamola het erken een van die groot uitdagings by St. Albans is vakante poste.

“Ons werk aan die probleem en het 89 voormalige amptenare wat die departement verlaat het, heraangestel en teruggebring. Ons het 80 amptenare van die noodondersteuningspanne aangestel en 49 leerlingbewaarders wat uithelp. Dit alles dra by tot meer mannekrag en ’n meer diverse groep beamptes.”

Die DKD tree ook nou strenger op teen korrupte beamptes en het reeds vier beamptes van St. Albans afgedank, terwyl 11 ’n dissiplinêre proses ondergaan.

Lamola het ook Donderdag vir Krawe by sy huis op die St. Albans-terrein besoek.

Magosonke Krawe, ’n bewaarder van die St. Albans-gevangenis, wat Sondag met ’n mes in die nek gesteek is, praat Donderdag met Ronald Lamola, minister van justisie, oor die voorval. Foto: Lulama Zenzile

Krawe sê hy en sy gesin is nog geskok oor die voorval.

’n Bewaarder, wat nie genoem wil word nie en wat ook deur ’n gevangene in St. Albans met ’n skerpgemaakte lepel in die kop gesteek is, is reeds die afgelope tien maande by die huis.

Volgens hom het sy lewe onherroeplik verander en sien hy nie kans om gou weer na sy werkplek terug te keer nie.

“My lewe het uitmekaar geval ná die voorval. Ek het so baie verloor. Dit is moeilik om in besige plekke te beweeg, ek bly paniekerig, selfs net die geluid van ’n toeter of honde wat blaf, maak my senuagtig.”

Hy glo die aanval op hom was veronderstel om noodlottig te wees en vrees dat gevangenes dalk die “werk sal klaarmaak” indien hy terugkeer werk toe.

Lamola het by navraag gesê die DKD word deur doktersadvies gelei oor hoe lank ’n amptenaar wat aangeval is af kan kry, maar gee die versekering dat elkeen se pos by die gevangenis tydelik gevul word.

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Politek  |  Bewaarder  |  Aanval  |  Tronk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.