Die minste padongelukke in agt jaar is in April op die snelweë in Kaapstad aangeteken.
In dié tydperk was die verkeersvloei op dele van die N1, N2, N7 en M5 binne die metropool se grense weens die staat van inperking tussen 75% en 80% minder as gewoonlik, luidens ’n verklaring.
In April was daar slegs 33 botsings op hierdie paaie teenoor 223 in Maart. Verder is 23 mense lig beseer, maar niemand is dood in die ongelukke nie. Dít terwyl daar van April 2019 totdat die inperking vanjaar begin het gemiddeld sowat 19 mense per maand in ongelukke op dié paaie dood is.
Nie ’n enkele voetganger is raakgery nie, terwyl daar tussen Maart 2019 en Maart vanjaar maandeliks gemiddeld 15 voetgangers raakgery is.
In Mei, toe die beperkings op beweging verslap is, het die getal botsings toegeneem en is 60 ongelukke aangemeld. Hoewel dit meer is as die 33 botsings in April, is dit nie naastenby soveel soos die gemiddelde van 240 per maand nie. In Mei is 15 mense in botsings beseer en een persoon is dood.
Felicity Purchase, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer, sê in die verklaring die verkeersvolumes het weer in Mei begin toeneem tot op ’n vlak van tussen 20% en 40% van wat die volume voor die inperking was.
In Junie het die verkeer in Kaapstad toegeneem tot sowat 65% van die verkeersvolumes voor die inperking, met meer mense wat weer terugkeer werk toe.
Purchase sê wanneer die pandemie verby is, sal daar ’n studie gedoen word oor die verkeersvolumes voor, gedurende en ná die inperking om te bepaal of daar blywende patrone gaan wees in hoe en wanneer mense tussen hul huis en die werk pendel.
Die stelsel wat gebruik word om die verkeer op die snelweë te monitor word deur die Kaapstad-metro, die Wes-Kaapse provinsiale regering en Sanral gefinansier. Die stelsel, met 262 kameras, word gebruik om die 179 km se paaie in en om Kaapstad 24 uur per dag te monitor om vinnig te kan reageer op voorvalle soos ongelukke wat die verkeersvloei kan beïnvloed en om die publiek oor enige probleme in te lig.
Paaie wat gemonitor word, sluit in F.W. de Klerk-boulevard, Nelson Mandela-boulevard, die Du Toitskloofpas, die pad tussen die N2 en die Kaapstad Internasionale Lughawe, die N1 en N2, Sir Lowryspas, Philip Kgosana-rylaan, die M5 en die R300.