Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
MiWay-hoof slaan vure dood ná ‘Bird Island’-twiet

René Otto, uitvoerende hoof van die versekeraar MiWay, moes behoorlik vure doodslaan nadat hy byna ’n rasseherrie met sy uitlatings oor Afrikaanssprekendes op sosiale media ontketen het.

Otto het verlede week getwiet hy is besig om die omstrede boek Die seuns van Bird Island te lees.

Die boek onthul ’n beweerde pedofielnetwerk waarby onder andere ministers van die apartheidsera betrokke was.

In ’n twiet het Otto geskryf alle wit Suid-Afrikaners, “maar veral Afrikaanssprekendes wat glo hulle is God se verkorenes”, moet die boek lees. Hy skryf verder die boek is ook ’n moet-lees vir Afrikaners wat steeds in ontkenning leef oor apartheid se verwoesting.

Binne oomblikke nadat Otto die uitlatings gemaak het, is hy oorval deur kritiek vanuit die Afrikanergemeenskap. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Otto se kop geëis en sê MiWay is maar alte gelukkig om Afrikaanssprekendes as kliënte te kry.

“Dis jammer dat René Otto wil probeer om ’n verwantskap tussen Afrikaners se geskiedenis en pedofilie te vind. As ek my sin kon kry, sal Otto die pad vat,” sê Kriel op Twitter.

Business Insider wys egter daarop dat Kriel self vroeër vanjaar in die spervuur was nadat hy aangevoer het apartheid was nie ’n misdaad teen die mensdom nie. Volgens Kriel was die moord op 6 miljoen Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog nie dieselfde as die “700 mense wat deur die veiligheidspolisie gedurende apartheid vermoor is nie”.

René Otto, uitvoerende hoof van MiWay.

Die ekonoom Mike Schüssler het Otto daarop gewys dat hy waarskynlik sy haat op pedofiele en nie Afrikaanssprekendes nie moet fokus.

“John Wiley en Dave Allen was Engelssprekend,” sê Schüssler, met verwysing na twee van die persone wat by die pedofielnetwerk saam met wyle genl. Magnus Malan, oudminister van verdediging, betrek word.

Otto het uiteindelik Sondagaand laat ’n lang verklaring uitgereik waarin hy sê sy bedoeling was nooit om enige “persoon of kultuur” leed aan te doen nie, maar om “alle Suid-Afrikaners” aan te raai om die boek te lees, veral Afrikaanssprekendes.

Volgens Otto is hy self deel van dié groep Suid-Afrikaners.

“Agterna beskou, het ek tragies misluk,” sê hy.

“Ek ag Afrikaanssprekendes as eerbare, hardwerkende mense wat ’n enorme bydrae tot die samelewing lewer. Ek aanvaar volle verantwoordelikheid vir my uitlatings en moes van beter geweet het.”

Meer oor:  Twitter  |  Miway  |  René Otto  |  Mark Minnie  |  Die Seuns Van Bird Eiland  |  Bird Eiland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.