Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mnr. SA-kompetisie as ‘geldmaak-skema’ afgemaak

Die finaliste is al verlede jaar gekies, maar sedertdien het vier hulle al onttrek en die ampserp van Mnr. Suid-Afrika hang onopgeëis nadat die vorige titelhouer uitgetree het.

Boonop is daar ’n broeiende regstryd oor die handelsmerk.

Die finaliste by die laaste Mnr Suid-Afrika kroning, JP Roberts, Dr. Habib Noorbhai (Mnr. Suid-Afrika 2016) en Diaan Neethling. Foto: Argief.

Rudi Baker, uitvoerende hoof van die kompetisie, maak dit egter af as ’n groot bohaai oor niks.

“Dit is elke jaar se storie,” sê hy oor die onttrekkings. “Elke jaar voel die finaliste ingedoen.

“Die kroning sal soos elke jaar óf in November van die kompetisiejaar (2017) óf in die daaropvolgende Maart (2018) plaasvind. Dit is ’n vloeibare proses en niks is so dat die nie kan verander nie,” sê Baker.

Van die deelnemers en vorige wenners is egter omgekrap.

“Mnr. Suid-Afrika is nie ’n hoërskoolkompetisie nie. Ek verstaan nie hoekom dit soos een bedryf word nie,” sê Abrie Marais, ’n oogkundige van Kaapstad, wat hom intussen aan die kompetisie onttrek het.

Volgens Marais hou Baker “pryse”, soos byvoorbeeld ’n TV-onderhoud, soos ’n wortel voor deelnemers. “Hy sal op die WhatsApp-groep aankondig dat die eerste deelnemer wat ’n R1 000 insamel, op daardie dag ’n TV-onderhoud sal kry.”

Marais het dié WhatsApp-boodskap aan Netwerk24 gewys.

“Maak ’n regstreekse oorbetaling,” lui die boodskap. Dit blyk die rekening waarin hierdie skenkings betaal moes word, is in Baker se naam.

Baker sê die spaarrekening is in sy naam omdat hy nie ’n bankrekening in die kompetisie se naam kon oopmaak nie.

Hulle het geen belangstelling in ons gehad behalwe dat ons vir hulle geld moet ingesamel het nie.
Zolisa Nomandla

Baker skuld ook na bewering geld aan Susca Watts, die voormalige eienaar van die Mnr. Suid-Afrika- kompetisie.

Haar regsverteenwoordiger wou nie sê hoeveel geld nog geskuld word nie, maar sê prokureursbriewe is al aan Baker gerig.

Baker ontken dat hy enige hofdokumente ontvang het.

Drie ander deelnemers, Jaco van der Merwe, Morgan Jacobs en Zolisa Nomandla, het hulle ook intussen aan die kompetisie onttrek.

Nomandla het op 12 Januarie besluit om die kompetisie vaarwel toe te roep.

Hy bestempel Mnr. Suid-Afrika as ’n “geldmaakskema”.

“Daar was te veel teenstrydighede en geen struktuur aan die kompetisie nie.

“Ons is gesê ons moet net geld insamel. Hulle het geen belangstelling in ons gehad behalwe dat ons vir hulle geld moet ingesamel het nie,” sê Nomandla.

Die deelnemers het in die eerste paar maande van 2017 bykans R221 600 ingesamel vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Daarvan is die helfte, soos ooreengekom, terugbetaal aan die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie.

Van 1 Januarie 2018 tree ek nie meer in my hoedanigheid as Mnr Suid-Afrika op nie. Ek sien uit daarna om die titel aan my opvolger oor te gee.
Dr. Habib Noorbhai

Ná dié betaling het Baker die ooreenkoms met Kansa gestaak, omdat hy eerder wou fokus op kinders met kanker.

Kansa sê Baker het nie die regte statistiek, verwysings en kentekens gebruik op die Mnr. Suid-Afrika-webtuiste nie.

“Ons het Rudi gevra om die verandering aan te bring, maar ná e-poskorrespondensie het hy ons in kennis gestel dat hy ’n ander welsynorganisasie gekies het en dat dit dalk beter sal wees om die vennootskap te staak,” sê Lucy Balona, bemarkingshoof van Kansa.

Die mees onlangse Mnr. Suid-Afrika, dr. Habib Noorbhai van Kaapstad, wat in 2016 gekroon is, is bekommerd dat Baker die handelsnaam deur die modder sleep.

Hy sê buiten die Mnr. Suid-Afrika-ampserp en ’n leertas, het hy geen ander pryse of ondersteuning van die organiseerders in sy termyn as Mnr. Suid-Afrika ontvang nie.

Noorbhai het in Desember amptelik uit die rol van Mnr. Suid-Afrika getree.

"Van 1 Januarie 2018 tree ek nie meer in my hoedanigheid as Mnr. Suid-Afrika op nie. Ek sien uit daarna om die titel aan my opvolger oor te gee,” lui sy verklaring op Facebook.

Baker het Woensdagaand op die WhatsApp-groep van Mnr. Suid-Afrika die deelnemers laat weet dat hy alles in sy vermoë doen om te verseker dat “die beste man” die titel wen.

Meer oor:  Skoonheidskompetisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.