Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mnr. X vrees vir sy lewe ná Minnie se dood

Mnr. X, die enigste vermeende slagoffer wat al na vore gekom sedert die opspraakwekkende boek, Die Seuns van Bird Island, gepubliseer is, vrees vir sy lewe.

Mark Minnie (58), medeskrywer van die boek waarin daar beweer word dat apartheidsministers by ’n pedofielnetwerk betrokke was, is Maandag dood op ’n kleinhoewe in Theescombe aan Port Elizabeth se buitewyke gevind.

Sedertdien, sê mnr. X, vrees hy vir sy en sy familie se lewe.

Hy sê hy glo vas dat Minnie nie homself om die lewe gebring het nie.

“Dis net te toevallig.”

Minnie se lyk is met ’n skietwond aan sy kop gevind. Sy familie het Woensdag gesê hulle vermoed hy is deur ’n sluipmoordenaar vermoor.

Mnr. X sê dat hy alle spore van homself op sosiale media gaan laat uitwis en sy selnommer gaan verander.

“Ek het al met die jare geleer om versigtig te wees. Nou meer as ooit.”

Mnr. X tydens 'n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24.

Mnr. X het Netwerk24 verlede week gekontak, nadat die boek, wat Minnie saam met Chris Steyn, voormalige ondersoekende joernalis, geskryf het, gepubliseer is.

Mark Minnie Foto: Lulama Zenzile

Die twee het in die 1980’s ’n parallelle ondersoek gedoen na die bewerings oor die vermeende pedofielnetwerk. Minnie was toe ’n speurder by die polisie in Port Elizabeth en Steyn ’n joernalis in Kaapstad. Die een het nie van die ander se ondersoek geweet nie.

Mnr. X het verlede week vertel hy is in 1987 as ’n 13-jarige seun verkrag. Volgens hom was een van die ministers wat in die boek genoem word, een van sy verkragters.

Die mans het glo jong bruin seuns na Bird-eiland naby Algoabaai geneem waar hulle glo seksueel mishandel is.

Mnr. X is volgens sy vertelling nie by Bird-eiland verkrag nie, maar wel by ’n huis in die Tsitsikamma-gebied.

Volgens die boek was daar ook voorvalle van seksuele aanranding van seuns by ’n huis in Witelsbos in die Tsitsikamma-gebied.

Die gebeure het volgens die boek in die 1980’s afgespeel. Minnie het destyds die beweringe ondersoek nadat hy die sakeman Dave Allen op aanklag wat verband hou met sy beweerde seksuele verhoudings met minderjarige seuns in hegtenis geneem het. Volgens die boek het Allen nadat hy in hegtenis geneem is, die ander mans se name genoem.

Die Seuns van Bird Island-dossier en ’n bandopname is volgens die boek, kort nadat Minnie met sy ondersoek begin het, uit sy geslote kantoor verwyder. Hy is daarna ook aangesê om sy ondersoek te laat vaar.

Allen is die dag waarop hy in die hof moes verskyn dood op ’n strand naby sy huis in Schoenmakerskop, Port Elizabeth, gevind. Daar is toe bevind dat hy homself geskiet het.

Die polisie het Dinsdag gesê dat ’n selfdoodbrief wat Minnie glo geskryf het, gevind is. Die inhoud hiervan is nog nie bekend gemaak nie. ’n Lykskouing is ook Dinsdag gedoen. Die uitslag is ook nog nie bekend gemaak nie.

Meer oor:  Mark Minnie  |  Mnr. X  |  Die Seuns Van Bird Island
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.