Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Model en SAID stry oor R45 m.

Die model Candice van der Merwe het nie net sowat R143 miljoen as geskenk gekry by Libanon se premier nie, maar ’n bykomende R15 miljoen toe haar bates bevries was én R45 miljoen om haar belasting­rekening te betaal.

Saad Hariri, premier van Libanon. Foto: REUTERS

Dié nuwe onthullings word gemaak in hofstukke waardeur Van der Merwe probeer om haar vorige skikking met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ongedaan te maak en “haar” belastingbetaling van R45 miljoen terug te kry.

Rapport het in Desember verlede jaar berig Van der Merwe (26) meen dit was haar “innemende persoonlikheid, gesonde leefstyl en sober gewoontes” wat Saad Hariri (49), Libanon se premier, se oog gevang het by ’n rykmans­oord in die Seychelle.

Sy is herhaaldelik soontoe as model om “glans” te verleen aan partytjies vir superrykes.

Hoekom praat julle nou weer daaroor?

Inwoners van Libanon, wat tans weens ’n ekonomiese krisis onder gewelddadige betogings gebuk gaan, is minder beïndruk deur hul getroude staatshoof en pa van twee se vrygewigheid.

Hulle het daarvan te hore gekom toe The New York Times ook Maandag oor die hofsaak in Suid-Afrika begin berig het.

Hariri was nie die regeringshoof toe hy die skenkings van 2013 tot 2016 gemaak het nie. Hy is ’n miljardêr en daar is geen aanduiding dat Libanese belastinggeld in Kaapstad uitgegee is nie. Hariri se welvaart is in 2013 deur die tydskrif Forbes op ’n allemintige $1,9 miljard bereken. Dis hoofsaaklik erfgeld.

Die Libanese nuusdiens Naharnet berig Hariri het Dinsdag op sy kabinetsvergadering gesê: “Maak nie saak hoeveel veldtogte hulle teen my voer nie en maak nie saak wat hulle sê, doen of skryf nie, ek sal aanhou werk en ek sal nie ophou nie.

Candice van der Merwe (26). Sy meen dit is haar “innemende persoonlikheid, gesonde leefstyl en sober gewoontes” wat Hariri se oog gevang het.

“Ek sal die nodige hervormings deurvoer om die land deur die huidige krisis te kry. Dit is duidelik dat iemand probeer om die stabiliteit van Libanon te ondermyn.”

Woensdag het Moestafa Alloesj van Hariri se Toekomsbewegingparty aan Sputnik Arabic gesê die premier het geen planne om te bedank nie en die onthullings is in elk geval holrug gery.

“Daar is vier of vyf jaar gelede daaroor gepraat. Hoekom praat julle nou weer daaroor?”

Hariri het ’n ekonomiese noodtoestand afgekondig. Die land het ’n kritieke tekort aan dollars en werkers word nie betaal nie.

Van der Merwe se plaaslike probleme is dalk kleiner as Hariri s’n, maar in haar oë nie minder ernstig nie.

Sy eis tans R1 miljard se skadevergoeding van die SAID weens haar reputasie wat geskaad is.

Sy sê die SAID het haar geteister omdat hulle eintlik haar pa, Gary, wou bykom en het vir jare met ’n “vendetta” volgehou deur te weier om te glo dat Van der Merwe so ’n geskenk kon kry.

Die peperduur huis in Fresnaye, Kaapstad, wat Candice van der Merwe met Hariri se meevallertjie gekoop het. Foto: Edrea du Toit

Die SAID het haar bates bevries terwyl hulle ondersoek het of dit nie dalk haar pa se geld was nie. Dis toe dat Hariri nóg $1 miljoen vir haar oorgeplaas het.

Luidens hofstukke het die SAID intussen toegegee dit was inderdaad die swemkleremodel se geld. Hulle het egter nie daaraan gebyt dat dit ’n belastingvrye skenking was nie en uiteindelik ’n skikking met haar bereik dat dit as “ander inkomste” belas sou word.

Van der Merwe voer in haar skadevergoedingseis onder meer aan dat sy nog vir baie lank geldelike voordeel uit Hariri sou kon kry as dit nie vir die SAID se inmenging was nie.

Die kollig en publisiteit het veroorsaak dat hul verhouding verbreek is.

Terwyl dinge nog goed gegaan het, verneem Rapport, het Van der Merwe en Hariri só geheg geraak dat sy in ’n e-pos vir hom “liefde” gestuur het en bereid was om haar splinternuwe vyfverdiepinghuis in Kaapstad se badkamers na Moslem-vriendelike badkamers te omskep vir wanneer hy en sy gevolg kom kuier.

Dié huis in Fresnaye het sy met Hariri se geskenk vir R85 miljoen van die oud-Springbokafrigter Harry Viljoen gekoop.

Inligting by die aktekantoor wys haar verbrokkelde verhouding het ook dié sprokiespaleis se glans laat verdof.

Sy het dit in 2017 vir R56 miljoen – teen ’n stewige verlies – verkoop.

Dis onduidelik of Van der Merwe nog die Audi R8 en Range Rover Evoque het wat Hariri ook vir haar gekoop het.

Gary van der Merwe het gesê hy en sy dogter wil nie kommentaar lewer nie.

“Julle is nie geïnteresseerd in die waarheid en die onregmatige SAID-optrede nie.

“Vir julle gaan dit net oor sensasie en om Candice in haar bikini te wys en in ’n slegte lig te stel. As julle bereid is om verslag te doen teen die SAID se gedrag, met redigering saam met my, kan ons praat. Anders, nee dankie.”

Meer oor:  Saad Hariri  |  Candice Van Der Merwe  |  Libanese Premier  |  Belasting  |  Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.